die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for Junie, 2008

Entry for 23 June 2008

Bygedra deur moukissie op Junie 23, 2008

Terwyl dié nou my kissie is wil ek iets algeheel fratsaardig ook laat uitspoel. Dis tog seker ook die doel van dié mou om die goeters wat jy andersins nie by my sou hoor nie ook raak te lees.

dis al


2006-07-10

Die kind is Blou, die Bloed is Blou
Blou hare – Retief
Blond – Blou langer as nou
Blou Glas Vaas angelier topaas

Blou boot – vars
Vol boot word
Trok (Blou)
Vaar in Nuwe gang

Deur Poort

Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , , | Leave a Comment »

Entry for 23 June 2008

Bygedra deur moukissie op Junie 23, 2008

2006-07-10

Where have all the dreamers gone …
Who woke them up?

As jy my ken,
kan jy my sien deur almal wat ek was
en steeds aanvaar
vir wie ek nou is.

Ek bring jou nou na die geboorte van ‘n droom:
Die barsting van ‘n gevoel, na ‘n gedagte, na ‘n woord.
Ritmies puls en beur, puls en beur
totdat ‘n baldadige ding gebeur …

Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , | Leave a Comment »

Entry for 15 June 2008

Bygedra deur moukissie op Junie 14, 2008

Uit die “argiewe” iewers halfpad deur 2006 …

Dis interessant hoe die rigting van retoriek sy insig vind in die mate van ons verwagting. Sou ons die ‘onbeantwoorde’ kon vra as daar nie iewers ‘n struweling in ons huidige bepaling was nie?
Vind twyfel sy oorsprong in die halwe wete?

2006-07-15

My lewe is ‘n ander plek,
omdat ek jou geken het …

Dankie

2006-07-13

soos ‘n ou storie speel dit af,
of is dit meer soos tuiskoms na ‘n
lang reis?
elke plek het sy reuk, sy kombuis
sy unieke warmte …

snaaks hoe mens soms sal loop
liggeraak onverpoos en dan meteens
is jy daar – jy ruik dit, voel dit
en selfs amper, net amper proe jy dit.

dan is alles reg … vir ‘n oomblik …

2006-07-18

Life Became Surreal, a jittering image
of a binary reality: “on” vs “off”
awake or not, yet without rest
and without flavour.

daynightmorning all blend into
a question: state of awareness?

Does life only exist in some equation,
some removed existence where
interaction is as clinical as the
screen i stare at … through

Does the highest level of my experience
only calculate down to mere impulses and
cervical messages interpreted by my
sensorial gateways? Will my being only compound
to a fleeting memory removed from
time and space? Does life produce more than a
mere circulation of air and matter …

does it matter?

Am i afraid of my Own questions?
or do they merely challenge my own reality?
Will the answer satisfy me as much as
the question?

… in laaie, onder boeke maar tussen blaaie ook, hier agter ‘n kas en daar tussen ander papiere val hulle soms uit. Stukkies skribbel. Hierdie is so een.

Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , , , , , , , , , | Leave a Comment »

Entry for 09 June 2008

Bygedra deur moukissie op Junie 9, 2008

Dié konsepte laat my dit ‘n moukissie wil noem: “Die aap uit die mou laat”, “Om sy hart op sy mou te dra” en dan natuurlik die uitbasuin van die geskiedkundige seepkissie op die dorpsplein.

Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , | Leave a Comment »

2008-05-31 ‘n Gedagte Onkruid

Bygedra deur moukissie op Junie 9, 2008

Onkruid, ‘n beautiful disease.

31 Mei … Republiekdag

Kieme

Ek is nie heeltemal seker waar ek die eerste keer van ʼn Kiembewustheid gehoor het nie, tog het ek in ʼn oomblik besef dat ek eintlik weet wat dit is en kon ek mense identifiseer wat dit het. Ek dink dit is by sommige mense ʼn siekte, onbewustelik.

Ek was nog ʼn student en dors die spesifieke dag toe ek ʼn halwe blikkie koeldrank gewaar. Voor ek maniere kon uithaal wat ek nie by die huis geleer het nie spring daar ʼn vriend uit agter ʼn bos en stop my. (Eintlik was ons besig om skoon te maak na ʼn funksie en het ons geloop en gesels.) Heh? “Maat, jy kan dit nie drink nie!” “Jy kan dalk net Hepatitis A of B optel!” Ek het seker op skool laas ʼn ”A” opgetel … Wat? Hepatitis? Ek dog mens kry dit soos vigs …

Nodeloos om te sê het ek maar dors gebly.

Soos die tyd verloop sien mens maar dingetjies raak en hoor goeters van geld wat vuil is en handvatsels van deure en natuurlik roltrappe se reëlings. Kieme is orals! Ek dink aan die laitie wat onder aan die trappe stip vir die reëling gestaan en kyk het. Iemand vra hom toe wat hy aanvang, waarop hy antwoord: “Ek wag vir my kougom om weer terug te kom …”.

Roché het my hande van die roltrapreëlings af gekry. Ek sou nie meer of minder kon omgee tot sy my eendag vertel het van al die mense met vuil hande wat aan die ding vat. Sies! Dit het my laat dink aan die heel eerste ding waaraan ʼn man vat na hy ʼn draai geloop het in ʼn publieke badkamer … Jip! Die KRAAN!

Kyk, jy kan die duiwel en sy kieme agter elke handvatsel gaan soek … Of permanent met Detol rondloop. Ek het maar besluit dat my immuunstelsel sterker as my vrese moet wees.

Toe gebeur dit natuurlik dat daar by die een maatskappy waar ek soms werk iets van ʼn sekuriteitsuitdaging ontstaan. Hulle besluit toe om die kaartsisteem af te stel en van vingerafdrukke gebruik te maak. Toé eers besef ek hoe “skoon” die kaartsisteem was. Jy ry in, swaai die kaart voor die sensor verby en siedaar alles gaan oop. Nou druk jy jou duim of wysvinger op ʼn glasplaatjie wat jou afdruk neem en probeer herken. Wat gemaak as die ou voor my besig was om KFC in sy motor te eet of selfs in sy neus gegrawe het?!

Dis toé dat ek besef hoe vuil die ou boek-en-pen sisteem was, dadelik is ek gerus gestel. Want as ek die boek-en-pen sisteem oorleef het, nie in die wêreld se gesondste mens verander het met die kaartsisteem nie, dan is die wysvingersisteem nie so erg nie.

Ek ken ook iemand wie se ma nooit vir hom roomys by een van daardie karretjies langs die pad wou koop nie, sy het vir hom gesê die man se hand was dalkies in sy broek net voor hy jou roomys uithaal en dit is net sieslik. Ek wonder of hy ooit besef het dat sy ma net nie wou geld op roomys mors nie.

Wat is kiembewustheid dan anders as ʼn oormatige vrees vir die onbekende?

Meteens klim jy nie meer in publieke swembaddens nie, want netnou het iemand anders ook daarin gepiepie, netnou is die vigsvirus nie bang vir chloor nie, netnou kry jy Hepatitis A en B.

Let mooi op, kieme gee jou siektes, keer dat jy nie effektief kan werk nie, maak dat Gesonde-Gawie jou werk kry. Dit veroorsaak op sy beurt dat jy geld bedel by verkeersligte in spitstyd. Ons moet van kieme ontslae raak want hulle gaan die wêreld oorneem! Hoe verder ons van hulle af bly, hoe beter! Dit laat my aan die advertensie van Domestos dink: “KILLS ALL KNOWN GERMS DEAD” … en die vreemdes wat doodgaan? Morsdood. Of was dit DOOM – “DEADLY KILLING ACTION”

Dalk moet ek my masjiengeweer gaan haal …

All known and unknown germs … dead. Die Sharpville wat ek nooit geken het nie.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , | Leave a Comment »

2008-04-28 ‘n Gedagte Frustrasie

Bygedra deur moukissie op Junie 4, 2008

My ma verjaar en ek is op soek na ʼn DVD vir haar. Eintlik eenvoudig, ek het heel “toevallig” die een waaroor sy dol sal wees op ʼn rak in een of ander musiek winkel gesien… ek kan net nie onthou watter een nie … hiehie. Gelukkig is ek nie bang nie aangesien ek nie vreeslik deur die winkelsentrums dwaal nie kon dit net een van twee gewees het. Brooklyn wen. Op die bromponie rits ek gou net na middagete na die sentrum toe om die DVD op te tel.

Ek fynkam die rakke, vreemd genoeg is hulle anders gerangskik maar die etikette is dieselfde. Sy kyk op die rekenaar en sê verveeld: “Jammer meneer, hy’s uitverkoop.” Flip, daar was ʼn rak vol, regte winkel maar die verkeerde sentrum?

Déjà vu op die uitverkoping.

Brom-brom stap ek terug na my ponie toe, die tyd stap ook aan. Menlyn. Mens kyk nie terug as jy daar was nie, Lot se vrou was genoeg voorbeeld vir my en ek kyk ook sommer af as ek soontoe gaan.

Op pad soontoe kom die déjà vu my koggel. Dis weer daardie tyd van twee jaar gewees en ek wil dit sommer ook lys as kalenderpes van ʼn meer tegnologiese aard. Dus kry mans dit ook. Dit begin met jou biologiese klok wat jou allerhande spesiale aanbiedinge laat sien, jy staar ook soos jong verliefdes deur vertoonruite om die pryse raak te sien – net nie op soek na ringe soos die paartjies nie.

Ek het dus al redelik navorsing begin doen oor die nuwe toestel en my gunsteling ontdek. Die één wat die res uitstof as dit kom by oulike goetertjies wat my ogies laat glinster. Hy is so “op-die-kop-reg” dat ek sommer persoonlik verantwoordelik voel vir sy ontwerp, man dis mos nou my tipe foon die! Die prys het my laat hik.

Ek het toe nie lank gesoek om een te kry wat meer aanpasbaar is vir my tipe lewenstyl nie, ook ʼn oulike toestelletjie. Ek reken met die kontrak wat ek het sal ek nie té veel hoef in te betaal nie. Dit was ook nie lank nie en dáárdie kortboodskap kom van die diensverskaffer af: “Goeie dag! Dit is weer tyd om op te gradeer. Kom gerus in na ons Hatfieldtak toe dat ons jou kan help om die beste foon te kies.” Gmf, ek weet klaar, dankie.

“Hallo, um ja ek is hier om my nuwe foon te kry.” Sy sal nou met my wees.

My kontrak is steeds ʼn bietjie lig in die broek, ʼn eufemisme as ek al ooit een gesien het. Stap ek uit met ʼn boekie in die hand, bly ek kon die voordeur gebruik – het seker nie meer uitgang vir die bywoners nie.

Gooeed, kom ons ondersoek dié opsies: Die eerste helfte van die menu is ietwat aan die kindertafel en die tweede helfte vir filantrope. Die middelweg is glad nie geel nie, ek wonder of hulle al van kleurskermpies gehoor het. Dis kommunisties!

Terug op die internet. ʼn Oulike een, bietjie volksvreemd vir my smaak maar ek is jonk en bereid om kanse te vat. Na ek met ʼn paar vriende gesels het, is die vreemde soos ou kennisse en vlam my hoop weer op dat die ou nommertjie eintlik alles kan doen wat ek wil. Tweede staan die bekende fabrikaat maar met ligjare verskil in tegnologie. Ek is wel ewe gemaklik met beide se inbetaalprys.

Paraat terug by kliëntediens – ek het my NUWE foon kom haal.

Jammer meneer, hy is ge’discontinue’ … ek dog eers sy vloek my in Brits.

Afgesê tog desperaat: “Maar julle adverteer hom nog …?” Ek dink hulle het op die vorige spanbou-staaldraad-kamp-vir-poppies-in-kliëntediens die res van die gesprek by haar ingedril, laat in die nag wakker gemaak en sonder kos laat gaan tot hulle dit foutloos kon sê … wag, ek moet luister, iets van … “ons kan hom vir meneer bestel?” JA, aster! Waar teken ek?

Sy praat toe van die meer bekende fabrikaat.

Hulle gaan dink ek steel die boekies, dié dat ek elke keer druipstert met een uitloop. Internet. Het jy geweet dat jy AL die dienstakke van Vodacom in Gauteng se telefoonnommers op een werf kan kry, nogal in ʼn tabel. My gesonde rede weier toe dat ek elke tak in Transvaal bel – dis net ʼn foon.

Van Strubenstraat tot die verre ooste se Boulevard bel ek toe elke tak: “hallo, ek is op soek na die TyTN … ja!, um, nee nie nr II nie …”

Ek is nogal dankbaar vir die Telkomlyn, my kontrak is hoeka te lig … “Wat? Jy kan hom vir my bestel?” – in Brooklyn. “NEEE! Ek soek nie die TyTN II nie, kan jy EEN, nommer 1, vir my bestel??”

Ek bel toe Maandag die dame van Woodhill terug, maar hulle bergingstore het hom ook nie.

Eintlik is ek al laat toe ek na skemer weer deur die poorte van Gomorra ry, kry my betaalparkeringkaartjie en sommer ʼn goeie staanplek ook. In der haas op pad in vang my oog iets in New World se vertoonruit …

Ek was amper laat, maar met genoeg tyd om ʼn sekonde lank te kyk.

Later op pad uit bevestig ek net weer, jip, daar is hy in die vertoonvenster. “Hallo, ek sien julle het die TyTN in die ruit en …” Was dit maar die eerste keer wat iemand dit gesê het. “Jammer meneer, daardie is ʼn fopfoon ons het hom nie meer in voorraad nie.” maar? “Ja, ons kan hom vir jou bestel.” JAAA! Hoe lank gaan dit neem? “Meneer, ons gaan hom nie voor enige iemand anders kry nie.” Wat vir ʼn antwoord is dit? Goed, maar wanneer skat jy sal julle die TyTN kan inkry? “Laat ek gou vir jou kyk.” Die Lamaze klasse skop gou in, ek tel mooi en haal diep asem.

“Meneer, ons kry die TyTN II seker in dié week nog in.”

Nodeloos om te sê het ek myself skaflik verskoon.

Ek sal maar die getroue en bekende fabrikaat neem, ek was nog nooit met enige van sy voorgangers teleurgesteld gewees nie.

Hatfield op die lyn. “Jammer meneer, ons het nie voorraad nie …”

Na ‘n flinke besoek aan die werf waar ek elke 012 op die lys al gebel het spoor ek hom in Brooklyn op. Ek stap Vrydag uit met ekstra geheue, ‘n sakkie en al. Nogal hulle laaste een ook.

Intussen het ek ‘n lewendige opname, so die 16 uur laai van die battery gaan stil-stil verby. Teen Sondag flikker die skermpie aan. Oulik. Hy vries drie keer in ʼn ry. Internet toe. Opgradeer en installeer als wat nodig is.

Déjà vu.

Die TyTN is nog steeds in die vertoonvenster, maar dié keer loop ek verby. By die groot CD winkel aangekom staan jy in die ry voor jy iets soek, want die ry loop by alles verby. ʼn Gawe dametjie help my om die DVD op te spoor. Nie die winkel waar ek hom oorspronklik gesien het nie – darem dieselfde prys.

Weer tuis lyk dit of ek die Trojaanse Durban July* wen toe my nuwe foon lui.

Vodacom Kolonnade: “Meneer, ons het die foon waarna jy gesoek het …”

Ns: Kolonnade het toe die foon waarmee ek die oproep geantwoord het, maar nie die TyTN een nie.

* In die tussentyd het ek ʼn virus op my rekenaar gekry, soos die film waarin Pitt speel, het dié ou perd van Trojaanse aard gulhartig ʼn week lank vir my en ʼn paar jagprogramme gelag.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2008-04-23 ‘n Gedagte Rugby

Bygedra deur moukissie op Junie 4, 2008

Die skare juig! Tannies skree van die paviljoene af “Vat hom Buksie!”. Omies gooi nartjies terwyl hulle dogters vir die vleuels loer. Dis ʼn warm dag laat in die seisoen en die gemoedere loop hoog. Maar wie gaan wen? Die skeidsregter blaas geen fluitjie, die lynregters dra ook net die vlae rond … Tog bly die spel verslawend, jil die skare voort en rol die aksie eers na die een en dan die ander pale.

Steeds geen fluitjie.

Titanies druis die spel, ʼn losgemaal en daar neuk die een die ander … wat?! Geen fluitjie? Die bal is weer aan die beweeg maar nou is die ander span op die agtervoet – ons het hulle tot ʼn verdedigende spelpatroon geforseer. “Haak hom!”

ʼn Man bly lê, siestog, dit moes seer gewees het … geen fluitjie … geen rooi kaart …

WAAT??? Die skare protesteer vergeefs. Oom Jan raak sommer die hoenders in … “WAT!? Hulle speel net voort?” Ongemaklik bedaar die skare, die een ou vat sommer sy goed en loop.

Ek dink as ons die lewe met ʼn rugbyspel moes vergelyk, sou dit dalk só gewees het. Op ʼn manier ken almal die basiese reëls, is daar een of ander aanvoeling vir reg en verkeerd. Daar is net een ding wat ons buite rekening laat: die reëls is onderworpe aan ons vrye wil, d.w.s.: geen fluitjie.

Goed en mooi, maar wat van as die bloed begin te spat? Dan kan ek mos vorentoe aangee, hoogvat, gevegte hê en voordeel trek uit die pandemonium? Ja, jy kan. Maar wat vir jou tel, geld ook vir die ander, so jy kan ook geslaan en gevaarlik geduik word. Foeter jy iemand in die losgemaal, kry die perd se kamerade jou terug of stap hy op jou af en klap jou dat jy dááár trek – geen fluitjie.

Die skare kreun mismoedig terwyl tokse ʼn rug oop trap. KEN die skeidsregter dan nie die reëls nie? Reg voor hom lê die knaap nog steeds. Die spel gaan voort – geen fluitjie. So asof die Skeidsregter omkyk: Gaan julle dit toelaat? *

Ek is nie juis ʼn swemmer nie behalwe as dit by plaasdamme en riviere kom dan sal ek speel omdat dit lekker is, maar om my te kry lengtes in ʼn swembad doen – dis ʼn ander ding. My broer het vroeër dié jaar (vir die eerste keer!) die Midmar Myl geswem. Ek was nogal beïndruk en is nog steeds trots op hom.

Swem is ʼn alleending.

Jy gesels nie sommer met jou spanmaat so tussen die hale deur nie, jy moet fokus, reg asemhaal en elke beweging ritmies in orde hou. Wel, so verstaan ek die storie. Dis dalk meer hoe die lewe is, soos die Midmar Myl – ook net sonder ʼn fluitjie. Ek reken daar is seker in elk geval nie ʼn fluitjie in dié swemstryd nie.

So, wat is die storie van die fluitjie? Maklik, dit wil vir my voorkom mense wag dat een of ander skeidsregter sy fluitjie gaan blaas en die stoute maatjies van die veld af stuur – nogal met ʼn rooi kaart! Helaas gebeur dit nie en nou raak ons befoeter met die Skeidsregter? Kan Hy dan nie sien die knaap in Zim is bo van sy trollie af nie?!

“ROOI KAART!”

“… en dankie vir ʼn warm bedjie en kossies elke dag … um … amen.”

Dis hoekom dit dalk meer soos swem is: met die Myl vind jy eers uit hoe jy geswem het sodra jy uit die water klim aan die ander kant. Hoe jy eindig weerspieël hoe jy geswem het. Hoe jy en jou Afrigter jou voorberei het is waar die Myl gewen word.

Geen rooi kaarte of fluitjies gaan jou spelpatroon “onder beheer” bring nie, jy gaan net swem. Ná die tyd sal jy en die tegniek van jou swemkuns beoordeel word (as nie versuip het nie – ed.)

Soms is daar ʼn paar rugbywedstryde sommer in die dam, kere waar ons saamstaan en as ʼn span die stryd betree. Kere waar ons as skare opstaan en vir geregtigheid skree, nie soos sommige Saterdae waar 15 teen 16 speel nie maar waar – omdat ons die reëls ken – ons die hande van die Skeidsregter word, maar soos swem kom die oordeel eers aan die einde.

Stories op ʼn stokkie.

Ek dink dat dit dié week eers vir my begin sin maak: Dit wil voorkom dat sommige van die Geloof mismoedig raak as rampokkers die spel vir hulle self wil neem. Verslae wag ons vir die fluitjie … maar dit bly stil.

Verlange oë staar na die Skeidsregter en skaars hoorbaar prewel ons verbete lippe … Soos Job, in sy sak en as, vervloek ons die land en selfs ook ons geboorte.

“MAAR ÉK SPEEL DAN VOLGENS DIE REËLS…!?!?!”

… tevergeefs? …

In dié rugbyspel blyk dit of die ander span sou wen, maar dis swemreëls dié …

Die laaste horing blaas en nou eers tel die getalle stadig op die telbord saam. Ek wag nie angstig nie want die ure in die water saam met my Afrigter het my genoeg voorberei. Snaaks hoe die reëls waarvoor ek gewag het die skeidsregter moes fluit, wat ek gedink het vir my punte op die bord sou bring nou leeg lyk. Dit was eerder in die water toe ek reg moes asemhaal wat hulle my gehelp het om effektief te swem, my vorm te hou. Van las tot strategie. Tog probeer sommige die reël in sy ywer ʼn skeidsregter maak wat vir hom as advokaat sal staan.

Ek kan nie genade en my voorspoed met Sy wette verdien nie. Maar met my spanmaats swem ons soos ʼn golf teen die vyand uit. Nie meer staan ons die paviljoene vol en wonder oor die telling nie, ons praat met die Skeidsregter en roep die makkers na die water toe. Dis nie ʼn geveg teen vlees en bloed nie.

Ek dink aan daardie oomblik toe ʼn potskerf weer so oor die rowe krap … “venynig dié jeuk!” Maar meteens dop dit af … dop?

Dis stil voor iemand praat:

Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:

“Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” **

* Jes. 59:14 & Ese. 22:29-30 & Mat. 16:19

** Job. 42:1-6 AOV

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2008-03-17 ‘n Gedagte Alleenmandaat 2.3

Bygedra deur moukissie op Junie 4, 2008

Ek het probeer. Dié is die derde probeerslag tot ʼn Gedagte waarmee ek in ʼn opvolg tot “Alleenmandaat” van die terugvoer wat ek gekry het, wil aanspreek. Dit mag dalk na ʼn té kort antwoord klink, maar sonder om ʼn jong tesis te skryf wou ek net ʼn idee gee tot die goeters wat roer en ek wou graag binne die perke van die Gedagtes hou.

Ja, as jy nog nie “Alleenmandaat” gelees het nie gaan die res van hierdie Gedagte jou moontlik ʼn bietjie verwar.

Een terugvoer wil ek met julle deel:

Vraag is hoekom dit so is.

Die Jode en Moslems glo jy moet die regte ding doen om in die hemel te kom. Christene glo jy moet die regte ding glo – dubbele glo!

As mens sê dat glo is om jou hoop te stel op iets wat moontlik nie waar is nie (lees dit ʼn paar keer voor jy my hieroor aanvat) dan maak “die regte ding glo” dit nogal vir mens moeilik. As ek dit rêrig, rêrig glo (party mense sê “ek weet dan”, maar dan is dit nie meer geloof nie, maar kennis), dan wil ek kerk toe gaan uit dankbaarheid (dankie Calvyn). Maar sê nou net ek glo net ʼn bietjie, dan moet ek eerder ʼn paar goed doen, want dan lyk dit darem of ek glo, want as ek nie glo nie gaan die gemeenskap (van die gelowiges) my weggooi en wie gaan my dán begrawe?

Ek stem saam, lees dit eers ʼn paar keer en dink mooi voor jy reageer.

Ek het.

Dit het my aan ʼn gesprek oor die internet herinner waar ʼn vriend van my in ʼn debat gewikkel was en my toe genader het om uit te help. Sien, die ander party het gedink God was onregverdig om vir Adam en Eva te staf vir wat hulle gedoen het. Jip, slaggereed het ek my beste roere uitgehaal en ʼn goeie verweer geloots.

My vriend het daarop geantwoord: “… die probleem kom in wanneer jy net van die ander kant die saak kan benader (vanaf buite ‘n verhoudingsperspektief) …” Aldus, hoe verduidelik jy vir ʼn dowe persoon wat ʼn simfonie is?

ʼn Godsdiens. Georganiseerd om ons lewens te organiseer … ?

Op die trappie voor in die ouditorium. Dis stil.

Hier en daar het die mense goeters vergeet of net agtergelos. Ek weet dit want tussen die banke lê sleutels, notaboekies en selfs Bybels. Een het terug gekom, ʼn bietjie tussen die stoele geloer … haar gesig blom en sy trippel tussen die rye deur, tel die sakkie op en huppel uit. Weer is die ouditorium stil.

NEE, stellig nie. Die bordjie af in die straat is al verroes, jy weet, daai een wat “STILTE: KERK” gesê het. Hoekom ons Hom nog op enige ander manier probeer voorstel as in terme van ʼn verhouding verstaan ek nie meer nie. Hoekom dit stil moet wees weet ek ook nie, Hy sluimer mos nie? En die elemente het dit mooi vir die bordjie geleer.

Ek dink nie dat dit dubbele glo is nie. As ek die geskiedenis reg verstaan, het ons maat Mohammed kontak met beide Jode en Christene gehad. Hy was iets soos ʼn handelaar en het redelik rond getoer. Gedurende een van daardie reise het hy ʼn Christen-kluisenaar leer ken. Dalk sou ʼn gemeenskap ʼn groter indruk gemaak het. Hy het ook maar soos Gandhi seker ʼn wip gevang met die christene en jammerlik HOM nie leer ken nie. Ek het nog altyd gedink dis makliker om vir mense reëls te leer as om insig op een of ander manier by hulle in te skerp. Ek dink dis hoekom hy seker aanklank by die Jode gevind het en toe sy wettiese lewenstyl geskep het wat ander wil (?) volg. Jy weet, daai een waar jy nie één diens mis nie, bid en lees en soos enige goeie besigheidstransaksie verdien jy iets aan die einde van die dag. Geen wonder die Jode en Moslems kan so geld maak nie …

Ek kan nie verhouding hê met reëls nie, ʼn wet “my liefie” noem nie. Daar was ʼn geleentheid in die woestyn, langs die berg Sinai in die OU TESTAMENT waar DIE EEN WAT ALLES GEMAAK HET, Sy volk nader geroep het en met hulle ʼn ONTMOETING wou hê. Hartseerstorie kort: “Spreek u (Moses) met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons …”

Hulle bly toe maar op ʼn afstand. Net soos die outjie daar oorkant op die dansvloer bang is om die meisie vir ʼn rondte op die vloer te vra. Kyk hy op ʼn afstand, niks nader aan ʼn verhouding met haar nie …

Die trappie is hard. Die skil van ʼn leë lokaal oorweldig my. Híer is niks nie. Weet ek, vra ek, pleit ek … bewonder ek.

So hoekom kom ék nog? Maklik. “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ʼn psalm of ʼn lering of ʼn taal of ʼn openbaring of ʼn uitlegging—laat alles tot stigting geskied.”

Want nie net staan ek in verhouding met die Skepper nie, maar ook met die skepping. Skaar ek my dus nog by ’n gemeente, waar ek nie meer kom om aan te sit vir spys en drank nie … nee, ek wil nou na die kombuis gaan waar ek iets kan voorberei sodat wanneer mense kom om met die Skepper te ontmoet daar ’n maal sal wees om te nuttig. Want sien, Hy klop mos nogal aan die kerk se deur in Openbaring 3:20.

Dis ʼn verhouding, nie ʼn organisasie nie. Dis ʼn vriendskap, nie net bloot ʼn hoop nie.

Staan ek by ʼn roudiens, sy kom oor na die happie tafel en kry ʼn koeksister. Dit was die eerste keer in baie jare dat sy in ʼn kerk was … mense het seker maar nodig om in iets te glo … jy weet, om hoop in iets (?) te hê … nie sý nie.

HY kom aangestap, sit langs my en kyk ook uit oor die leë stoele.

“Kom ons gaan na jóú huis toe …”

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2008-03-09 ‘n Gedagte Alleenmandaat

Bygedra deur moukissie op Junie 4, 2008

Dis 09:47, Sondagoggend. Terwyl ek en ʼn vriendin in die week gesels het oor ons planne vir die naweek kom dit op dat sy nie dié Sondagoggend kerk toe gaan nie. Sy gaan ook nie kerk op TV kyk of oor die radio luister nie. Sy het ander planne. Haar ma het gewonder wat Jesus daarvan sou sê …

Ek het ook begin wonder.

Dit het ongemaklike vrae laat ontstaan en ek wou nie eens daaroor skryf nie. Wel, terwyl ek ook nie nou by die kerk is nie en nie van plan is om ʼn tweede diens te gaan opsoek nie, sal ek maar kontroversieel wees.

Ek vra voorlopig om verskoning vir die tannie daar in die derde ry met haar vrolike blommetjieshoed aan. Sien, my ma hét my geleer mens dra nie ʼn hoed in die huis nie maar vir een of ander rede is dit anders as jy kerk toe kom.

Terwyl ek so gewonder het, het daar twee vrae by my opgekom oor Sondagoggend se kerk mis. Het die kerk alleenreg op Jesus? Het die kerk ʼn alleenmandaat?

Dis soos om ʼn motor elke 10 of 15 duisend kilometers vir sy diens te neem. Mis jy dit is daar moeilikheid met die enjin. Nou wonder ek in hoofletters. Is dit nie onverskillig van my om ʼn diens te mis nie? Gaan my tenkie nie leegloop nie? Wag! Daar is Woensdag se kleingroep of die middel-van-die-week diens … so, as ek Sondag wil gaan bergklim kan ek nog Woensdagaand rapporteer vir my diens.

Ek is nie ʼn motor nie.

Ek dink dis ʼn goeie idee om voor einde volgende jaar te trou. Ek sal vir my ʼn fraaie aster iewers opspoor, haar wyn en sjokolade voer tot sy ja sê of verslaaf is. Met haar trou en dan net kyk wat die diensvoorwaardes is voor ek kontrak teken. Saterdae kan sy Menlyn toe gaan vir haar kleinhandelterapie; tone, naels en hare gebeur elke tweede Dinsdag en dan iewers in die week kan ons saam ʼn reeks op die betaalkanaal kyk.

Tweemaal per jaar vat ek haar see toe vir die sout-lug wat sy so koester en loop saam met haar op die strand terwyl die son sak. Jy sien, sulke goeters sit haar liggies aan en hou haar tenkie vol. Sy is wel ʼn bietjie meer moeite as my bakkie maar ook soveel dieselfde: altwee het so nou en dan maar hulle olietjies nodig, of liefie dit nou op die hande sit of die rimpels daarmee streel loop sy gemiddeld op ʼn punt of twee …

My liefie is ook nie ʼn motor nie.

Hoekom maak ek van my verhouding met God ʼn diensrekord by ʼn handelaar? Geen wonder Christenskap het vir sekere mense ʼn vyfjaar of 100 000 km onderhoudsplan geword nie.

Die tannie in die derde ry raak nou ʼn bietjie ongemaklik. Die blommetjies op die hoed probeer agter die wit gaas wegkruip maar helaas dit luk nie.

Dis dalk waar ons die pot mis sit (ek wonder altyd van watter pot daar gepraat word, siende dat dit die aard van die gemors bepaal wanneer dit mis gesit word …). Het jy al gehoor hoe mense sê hulle tenkie is nou leeg en te danke aan hierdie vergadering van die gelowiges sien hulle nou weer kans vir die res van die week …

Ek is sommer hartseer. Is dit al wat van ons godsdiens geword het? ʼn “Regmakertjie”, daardie ekstra ietsie wat gewone Coca-Cola ʼn ouderdomsbeperking gee … wat my gewone week draaglik maak ..?

Of, is dit half moontlik dat ons die hele punt mis?

Die tannie in die derde ry sweet gulhartig voort. Sy het al drie snesies uit die boerebeursie gehaal en ek wonder wat nóg daar gaan uitkom.

Oom Gous daar langs haar wonder ook.

Iewers in ʼn stadium het ʼn skoolsisteem ons denke betree (betreur?) en ons oortuig dat jy nét dit weet wat dié priester jou leer … dat sommige studente HG is en ander nie. Groot ons verbasing as daar ʼn ander Leermeester is ..?

Ek wonder soms hoeveel van ons beplanning beplan ons voor of na die Leermeester se inset … siestog, nét ʼn insetsel … Goed, ek slaan nou wyd, maar dis my diens hierdie.

Ek dink nie mense leer binne die klaskamer nie. Vandaar die verbasing as ons studente so baie van seks en partytjiepoeiertjies weet, jy sien, hulle leer dit by die maatjies op die skoolgrond. Die maatjies langs hulle in die klas. Die maatjies daar buite. Die gemeenskap van die heiliges.

Hierdie is nie ʼn griefskrif teen die instituut nie, maar eerder teen die institusionalisering van die lede en hulle verhoudinge, veral dié van hulle verhouding met HOM. Dis nie meer die gemeenskap van die heiliges nie maar die vergadering vir die afhanklikes. Het ons nie dalk mense sjokolade en wyn gegee, gewag dat hulle ‘ja’ sê voor ons van hulle ʼn bruid maak nie? Dalk moes ons maar eerder brood in plaas van sjokolade gebruik het …

My punt is nie dat ons die ouditoriums moet afbrand en in huise vergader nie, nog minder om dié gemeenskap te verlaat nie. Ek is eintlik jammer oor hulle wat die “lig” gesien het en die gemeenskap verlaat het. Deel eerder daardie lig met ons. Ek glo die rol moet verander, die tafel moet draai en dat ons van ʼn ander kant af die storie moet benader. Dat ons moet beleef wat verhouding beteken voor ons leer wat metamorphoo is …

Die tannie in die derde ry staan stadig en moeilik op, vat haar handsak en skuifel tussen die stoele uit na die gangetjie toe. Oom Gous sit ʼn oomblik om sy sonde te bely. Die tannie het haar deel gedoen en haar diens bygewoon … ek wonder of sy geluister het.

Jy kan van HG Hoër Graad maak of Heilige Gees … net soos jy wil.

Metamorphoo: Rom 12:2

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2006-11-23 A Thought

Bygedra deur moukissie op Junie 4, 2008

I’ve been hard pressed to share this thought for quite a while, I believe that it’s time has come. It comes out of ‘the archives’ but it is applicable and relevant none the less. I do trust that this week’s thought will provoke more than just your thinking…

————————————-

do we dare to brim the border of this glass we see through,
and yet imagine the awesome wonder of what lies behind?
does our reflection spare us the reality,
or do we turn from the veil in fear for what we may find,
yet never finding what we need.

my glass, an ever illusive frailty, that hid in clearness its greatest chest,
yet in a normal day of venture i found a crack in sudden sky. a moment where no line was drawn, yet out of place this crooked winding edge showed face. spurned in a prise twined in wonder and thought, the glimmer in mid air posed an imposing question: turning to another wind i may follow myself away, only in some time, to come to just the same on another day; yet if in sudden exploration the crack dies into multiple thoughts, no gathering shall ever find it piece again.

the question

who is asking

Author’s Comments

***** Spoiler WARNING!!! *****
When I started to write the description I didn’t want to interpret the piece -I think sometimes we should leave the reader to experience that by themselves…

But by the end of the description, it looked as if to some extent I did tag an explanation to it…
So read it on its own, and if the picture draws itself don’t bother the tag I wrote…

The Description


I’ve found that if we do nothing about our lives we actually end up choosing a life drained of variety. Things just be, until we reach a point where we are challenged by something that may shatter our world, yet by the time this happens we love our little world. We love every part of this matrix … Yet we will always come to some point where we reach the end of our limited understanding and existence, and we are challenged by a crack …

When that question comes …

Who is asking …?

What will we answer …?

Will we dare to live beyond ourselves …?

Posted in Gedagtes ..., Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , , , , , | Leave a Comment »