die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for Maart, 2009

2009-02-22 ‘n Stofpad Gedagte_06 Orania

Bygedra deur moukissie op Maart 16, 2009

Ek weet nie of jy die TV/radio advertensies van “Boys’ Town” kan onthou nie? Iewers het die stem gesê: “Ek het gedog daar gaan tralies voor die vensters wees …” Dan gaan die grappie aan “… maar die eerste vensters was eers op die derde verdieping”.

Snaaks hoe mens vanuit jou vooropgestelde idees leef of die wêreld beskou. Ek het sulke idees oor Orania gehad en sal graag my uitstappie aan die dorpie aan jou wil beskryf, maar om die belewenis so raak as moontlik oor te dra sal ek my vooropgestelde idees aan jou bekend moet maak. Reg of verkeerd, mooi of lelik, dis wat ek gedink het.

ʼn Gatkant dorpie, waar ongeveer 600 stoere Afrikaners gaan wegkruip met die hoop dat die wêreld wat hulle skep ʼn wit een sal wees of dalk om Suid Afrika weer iewers in die onbeduidende toekoms oor te neem. Ons was oor die 1000 leerlinge toe ek op nog op hoërskool was, 600 mense wat oor iets saamstem is nie baie nie.

Stofstraatjies. ʼn Maer wit laitie wat by die vulstasie vir jou brandstof ingooi. Om daar te kom moet jy iewers in die Karoo inry, probeer om nie te verdwaal nie en hopelik die droë plekkie raak ry voor die son jou alleen kry. Boere met groot baarde wat nog met sannas skiet en die Zoeloes haat.

Ja, ek het ʼn klein bietjie vet gesmeer. Net ʼn bietjie. ʼn Vriendin het gedink die vrouens dra Voortrekkerkappies. (Om die tafel waar ek sit en tik val sinne soos dié uit mense se gedagtes: “Ry hulle met karre rond?” “Het hulle darem TV?” “Ja, ek sal kan glo dat hulle ʼn eie radiostasie het.” “KykNet is seker bietjie wild vir hulle.” “Is daar ʼn teerpad soontoe?” “Ek dog hulle ry nog met ossewaens?”)

Tussen Petrusville en Hopetown is daar ʼn teerpad en so 30km uit Hopetown het ons ʼn 4-rigting kruising met stoptekens gekry. Orania. ʼn Groot bord teen die dak van ʼn gebou aan die regterkant lees ‘ORA’ en in kleiner lettertjies by die ingang kan jy van die pad af sien dis ʼn ‘OK Grocer’. Met wit kryt op ʼn swart bordjie word jy aan die 5% afslag herinner wat jy kry indien aankope met die plaaslike geldeenheid, die ‘Ora’, betaal word. Die ekonome tussen ons sal dan bespeur dat dié geldeenheid tegnies en teoreties sterker as die Rand is as gevolg van dié afslag.

Ons sien baie klein dorpies.

Orania is oulik. Daar is ʼn ‘Aan die Oewer’ vakansieoord wat skoon en netjiese houthuise het, laat my dink aan ʼn oord by Amanzimtoti waar ek as kind was. Lower groen met pragtige donker bruin verniste houtgeboue. Rustig. Die dame sê hulle geniet dieselfde tipe aandag as die ou ATKV oorde. Daar is ook ʼn Spa waar jy jou van jou tone tot jou kroontjie kan bederf en die gebou is toegerus met ʼn eko-temperatuurbeheerstelsel. Die een hele muur is van rivierklippe in ʼn draadstruktuur gemaak. Water drup stadig oor die klippe wat dan, wanneer die wind daaroor waai, die hele gebou afkoel. In die winter is daar deurskynende panele wat soos blinders oor die muur toemaak, die water word toegedraai en die muur word warm wat die gebou weer verhit.

ʼn Stukkie geskiedenis om die oorsprong van Orania te beskryf. Ek parafraseer verskriklik, want ek kan nie al die inligting in detail onthou waarmee hulle media offisier-persoon ons bombardeer het nie. Jammer. Iewers in 1963 het Waterwese ʼn dorpie gebou om van hulle mense te huisves sodat hulle nader aan die Vanderkloofbesproeiingskanale kan wees. (Dis na my mening baie tipies van ‘tydelike dorpies’ dat mens betonstrate en asbeshuise in Orania kry.)

Die projek is afgehandel, die mense het begin wegsyfer en Orania het in ʼn spookdorpie verander. Rondom 1990 het die dorp op veiling gegaan. Die witmense het dit deur ʼn maatskappy van soorte opgekoop en hulle ideale gevestig in die skulp van dié dorp iewers in 1991. Hulle hamer nogal op die feit dat dit wel vóór 1994 was.

Buite by die publieke swembad het ons ʼn monument gekry. ʼn Reuse koeksister. Ek het begin wonder oor dié plek …

Orania het vele aspekte wat mens laat dink dat daar darem meer as ʼn paar aande oor bier en braaivleis aan dié idee gedink is. Hulle sit vierkantig in die ‘groen’ stoel met hulle energie en omgewingsbewuste projekte. Jy sien sommer oral op straat trossies asblikke mooi gemerk: ‘Glas’, ‘Plastiek’, ‘Papier’, ‘Blikkies’, ens. Behuisingsprojekte word van strooibale tot polistireen gebou om goedkoper en volhoubaar te bou. Selfs droë toilette is op die lys.

Hulle probeer alles.

Selfs die landbou spring nie ‘groener’ ideale vry nie, diere wei in die boorde om sodoende te help bemes aan die grond en van die boere breek ook nie meer die grond in hulle landerye wanneer daar geplant word nie.* Trots kondig die persoon wat ons rondlei aan oor hoeveel joernaliste hulle besoek en van al die mense uit die buiteland wat na hulle ‘volhoubare nedersetting’ kom kyk en bewonder.

Daar is iets geniepsig wat my net nie wil los nie. ʼn Stoute seuntjie in my wat die ou oom oorkant die straat permanent die josie in wil kry. Sy kat wil pers verf, dagga in sy blomtuin plant of wasgoedseep in die fonteintjie by die voordeur gooi. Wat gebeur in Orania wanneer die son sak? (Jy het huiswerk. Gaan kyk die film ‘The Village’.)

Die geniepsig in my het eindelik beelde uit die film in my geheue los getorring. Ek wil weet wat gaan deur ʼn burger van Orania se kop wanneer hy of sy in die regte wêreld daar buite kom?

Die wêreld is nie ʼn wit plek nie.

Soos met ʼn broertjie of tannie in die tronk het mense traag geantwoord wanneer ek hulle oor dié buurdorp uitgevra het. Niemand wil skinder nie. Maar alles is nie reg nie. Dít het my die hele tyd gepla, want dis regtig ʼn oulike dorpie al stem ek nie saam met hulle rassebeginsels nie.

Soos met die film ‘The Village’ blyk dit ʼn goeie idee te wees, glimlag al die mense mooi op die foto’s teen die muur. Maar …

Dié vier lettertjies wat my vrede steel as ek aan die plekkie dink. Ek was al in dorpe waarvan ek doodeenvoudig net nie gehou het nie. Dis soos sekere mense wat glad nie van olywe of tamatiesoustoebroodjies hou nie. Niks persoonlik nie. Daar is net meer plekke waarvan ek oorwegend meer hou. Dis maar dit.

Ek het wel net weereens besef dat my Afrikanerskap nie van ander mense afhang nie. Net omdat ʼn dorpie ʼn string ideale aan die grensdraad hang en dit oor die ‘Afrikaner’ kam skeer, maak nie noodwendig dat ek daaraan vashaak omdat ek wit is nie.

NS. Ek was tot voor die tog deur die land ʼn groot voorstaner van tuisonderrig, maar isolasie van die samelewing is nie gesond nie. Ek is wel dankbaar vir vriende wat deur die proses is en gebalanseerd aan die anderkant uitgekom het. Al sê die mense van Orania wat, hulle isoleer hulleself, hulle kies om eksklusief te wees. Dit is jammer.

*Dié boerdery beginsel maak baie sin, sal jou aanspoor om bietjie meer hieroor uit te vind. As daar genoeg navraag oor die onderwerp is sal ek dalk ʼn gedagte daaroor skryf.

Interessante bladsye:
http://www.news24.com/News24/South_Africa/Decade_of_Freedom/0,,2-7-1598_1515558,00.html
http://en.wikipedia.org/wiki/Orania,_Northern_Cape
http://news.bbc.co.uk/2/hi/africa/3670441.stm
http://www.orania.co.za/

Posted in Stofpad Langs | Tagged: , , | Leave a Comment »

2009-02-16 ‘n Stofpad Gedagte_05 Privaat

Bygedra deur moukissie op Maart 10, 2009

Hopetown. Eintlik is ons al by Strydenburg oor die halfpadmerk van die tog, maar hier het die spilpunt in die mielies gestaan.

Dalk gaan dit tussen twee episodes gebeur wanneer julle dit kyk. Iets is wel aan die gebeur, so tussen die bossies en oor die bulte is die landskap en alles wat daarmee saamgaan besig om te verander. Maar laat ek eerder stuk-stuk so van ʼn kant af begin om dié storie se drade uit te lê.

In die vorige gedagte het ek genoem dat dinge eintlik baie veilig op die tog gaan, dis glad nie meer snaaks om met die huis se deure oop te slaap of om goeters iewers net so te los as ons iets anders moet gaan doen nie. Mense wat ons nou ontmoet sal netnou sommer hulle plaashuis vir ons oopsluit en ons daar laat bly terwyl hulle eintlik op die dorp is vir die naweek. Netso.

Ek het ʼn redelike fassinerende boek in Pretoria begin lees, Freakonomics – ek sal dit ten sterkste aanbeveel! Hulle kyk bietjie na statistiek en wat dit eintlik beteken. “Gaap”? – nee! Woes interessant!* Ek is nog besig om in hom rond te loer en het toe begin wonder oor goeters wat ek om my sien.

My gebrek aan belangstelling op skool in vakke soos Aardrykskunde en Geskiedenis byt my nou dat ek nie seker is waar die Karoo eindig en die res begin nie. Tog het ek die volgende observasies gemaak en dis juis húlle wat my aan die dink het. By Strydenburg was die wêreld nog vaal en mooi, het ons ondervinding nodig gehad om die groen in alles te sien en was die romanse van die Karoo en sy hoë wolke nog vars in ons gemoed. Mense is vriendelik, plaashekke oop en daar groei net bossies tussen die klippe.

Iewers het die kwaai begin. Het ek begin oplet dat daar slotte en kettings aan die hekke is, het die gevaarlike bordjies jou begin waarsku.

“Pasop!”

Saam met dit het die gras begin uitloer tussen die korrels, miershope het soos pokke op die landskap uitgeslaan.

“Pasop!” “Gevaar!”

Prente van gewere, honde en skedels het in geel van pale en hekke op jou begin skree.

“Gewapende Reaksie!” “Geen Ingang!”

Die skape het in die gras verdwyn – langer bene werk hier beter – en so het die beeste verskyn.

“Privaat Eiendom!”

Bome het opgekom, met dorings aan, soos die drade ook al meer dorings begin kry het.

“OORTREDERS SAL VERVOLG WORD!”

Water, groener en groter bome.

“WAARSKUWING! PASOP vir die HOND!”

En die volgende dorp se naam: Hopetown. Die Oranjerivier. In ʼn oogwink het die Karoo verdwyn, ek wou nog koebaai sê.

Dis Sondagoggend, ek sit in my bakkie en boek lees langs die N12 aan die buitekant van die dorp, net oorkant die stadion waar die geel party gister ʼn saamtrek gehad het. Ben moet vandag terug huis toe, daar is dinge daar waaraan hy moet gaan aandag gee. Ek wil hom groet voor hy die bus in Kimberley moet vang en hulle ry netnou hier verby op pad soontoe. Dis meestal die inwoners van die informele nedersetting wat my groet en glimlag. Terwyl ek lees wonder ek wat mens moet aflei van die landskap wat so verander en die ondertone daarmee saam.

Twee begrippe uit Freakonomics het my aan die dink gesit. Die een is dat sekere goeters maar net saam loop en ander mekaar veroorsaak. Wolke in die lug beteken nie noodwendig dat dit besig is om te reën nie, maar daar is meeste van die tyd wolke in die lug wanneer dit reën. Net omdat daar ʼn klomp statistiek is beteken nie dat die faktore die statistiek se ‘gevolgtrekking’ veroorsaak nie. ʼn Klomp van daardie goeters loop maar net saam maar die werklike oorsaak het jy dalk nog nie raakgesien nie. Lees die boek.

Terwyl ek met die wolke voorbeeld besig is gaan ek hom gou bietjie skeef trek. Gestel die persoon wat ons aanstel om die reënval van ʼn sekere gebied te monitor slaap baie diep en werk nagskof. Iewers in die opname gaan hy die volgende afleiding dalk maak: “Dit reën meestal net in die nag, dus het die son ʼn negatiewe uitwerking op die vorming van wolke en reën.”

As ek nie van sy werk en slaap gewoontes weet nie, gaan ek hom glo.

Dit dan klaar gesê, wil ek nog steeds weet hoekom die wêreld al kwater word soos ons noord gaan. Kom dit saam met die bossies wat minder raak, of die miershope, of die miere? Of die miervreters? Maak die gras mense kwater, of is dit die dorings aan die bome en die drade?

Rooigrond. Ons is in die gevegte distrik, boere en engelse het al hoe meer met mekaar begin slaags raak. Diamante? Water? Elektrisiteit … ESKOM! Ek moes dit geweet het!

Ernstiger noot. Aan die begin was die water skaars, elektrisiteit ʼn weelde en het meeste mense van sonpanele, dieselkragopwekkers of windlaaiers gebruik gemaak. Die grond was meestal lig van kleur. Dit was droog. Nou is die veld groen en mooi.

Net gister praat ons met ʼn oom wat op 75 nog boer. Sout van die aarde. Nou is ek ʼn bietjie deurmekaar. Hoe kan die mense as jy hulle alleen kry nog net so gaaf en vriendelik wees soos oral langs die pad, tog as jy terugstaan word die wêreld al hoe kwater? Dié kwaad moet tog iewers boublokkies hê. Ek het gedink dis in die water. Gedink dat dit die grootste faktor is wat maak dat mense meer kan plant, beeste kan boer en dus meer geld kan maak. Mammon.

Steeds is ek nie tevrede nie. Ek sien al die donderwolke, maar nie ʼn druppel reën nie.

Die gemiddelde dorpie deur die Karoo is oorwegend kleiner as die dorpe in die noorde, mense in die kleiner dorpe ken mekaar beter en soos iemand van die Loxton distrik ons vertel het, “Daar is klieks in alle klein dorpies. In Loxton is dit ook so en is daar net-net genoeg mense vir EEN so kliek.”

ʼn Bietjie statistiek bestaan wat reken dat mense moeiliker steel van iemand wat hulle ken, veral as dit in ʼn klein gemeenskap is waar almal dit kan uitvind. Reg deur die tog het inwoners van klein dorpies daarop geroem dat hulle ondersteun word deur die gemeenskap sou hulle deur ʼn moeilike tyd gaan. So lief vir skinder en venynig as wat mense kan wees, is ons nie so ten volle oorgegee aan die/ons? slegte natuur dat ons nie eens ʼn bietjie vir ander kan omgee nie.

Daar is net een probleem met die oplossing. Wat is dan die grootte van die dorpie waar mense nie meer omgee nie? Is dit dan die geheim van deure oop los en veilig lewe? Of is dit dalk net die verkeerde vraag? Het dit nie dalk iets met die kleur van die mense te doen nie? Ek wil stuitig wees en kliphard ‘JA’ sê en amper dadelik kleur weer net ʼn klomp wolke noem.

Ek is nie deel van die kampie wat misdaad op ras blameer nie. Want wat is die kleur van die misdadigers in sogenaamde ‘wit’ plekke? Wit. Party mense kies om slegte goeters te doen en ander kies om beter dinge met hulle tyd te doen.

Hoekom sê ek dan dat dit met ras te doen het? Maklik. Die bruin mense in die suide praat Afrikaans, en solank die oorheersende taal van die gemeenskap en die dorpie dieselfde was, het daar ʼn groter begrip vir mekaar geheers. Diep in die Karoo waar daar min mense was, het ons nie kleur gesien nie. Mense moet bymekaar staan om te oorleef. Alles in hulle verstaan dit en vanaf daardie begrip deel hulle die bietjie water mooi en help hulle mekaar die paar skapies grootmaak. Hulle het verstaan dat as dit met die een sleg gaan dit met die ander ook swaar gaan. Tog hoe meer noord ons beweeg, het die “gemeenskapsgevoel” van die klein dorpies al meer gepolariseer om die duideliker taal en kultuur grense.

Tussen Hertzogville en Hoopstad het die een tannie nie ʼn sterk vaardigheid in Engels nie. Sy het twee werkers in die huis, die een dame kan nie Afrikaans praat nie, so nou vertaal die ander dame vir haar wat die tannie in die huis gedoen wil hê. Iets wat ongeken aan die begin van die tog was.

Ons kom nog steeds in dorpe waar die grootte van die dorp ʼn samesyn kweek waarvoor die platteland so bekend is, tog, omdat taal- en kultuurgrense so sterk skei, bloei die liefde tussen rasse al meer water vir mekaar.**

Die goeters buite ons beheer het nie regtig so ʼn groot invloed op ons samesyn as wat ons dink nie, dit is eintlik maar in die begrip tussen en vir mekaar waar die reën werklik val of nie. Soms is daardie begrip maklik as ons mekaar se taal verstaan. Ek word herinner aan die huwelik en een van die tekens van koestering wat gebruik word. Diamante. Tussen man en vrou is daar gewoonlik ʼn diamant of twee, jy weet dat daar in Kimberley tussen die engelse en die boere ook diamante was. Albei wit rasse, maar soos in ʼn huwelik kan hulle mekaar se woorde hoor en nie die keuse maak om samesyn in hulle klein gemeenskap met mekaar te koester nie. Jy moet wil verstaan, wil begryp en wil verander.***

*Which is more dangerous, a gun or a swimming pool? What do schoolteachers and sumo wrestlers have in common? Why do drug dealers still live with their moms? How much do parents really matter? How did the legalization of abortion affect the rate of violent crime?

These may not sound like typical questions for an economist to ask. But Steven D. Levitt is not a typical economist. He is a much-heralded scholar who studies the riddles of everyday life—from cheating and crime to sports and child-rearing—and whose conclusions turn the conventional wisdom on its head.

Freakonomics is a ground-breaking collaboration between Levitt and Stephen J. Dubner, an award-winning author and journalist. They usually begin with a mountain of data and a simple, unasked question. Some of these questions concern life-and-death issues; others have an admittedly freakish quality. Thus the new field of study contained in this book: Freakonomics.

** ‘ʼn Verwysing na die gesegde “Bloed is dikker as water”.

*** Hierdie spesifieke verandering verwys na jouself en nie die begeerte om jou maat te wil verander nie. Ons sit voor ʼn paartjie wat 48 jaar met mekaar getroud is. Dol gelukkig. Die tannie beken na ons haar vra hoe sy dit regkry, dat jy jou maat moet aanvaar en dit laat vaar om hulle te wil verander. Die oom het saamgestem.

Posted in Stofpad Langs | Tagged: , , , , , , , , , , , , , | Leave a Comment »