Sake van die hart het gewoonlik een of beide van die volgende nodig: ’sterkte’ en ‘wysheid’, want die ‘vlinders’ sorg nogal vir die res …
Archive for Junie, 2009
vlinders
Bygedra deur moukissie op Junie 26, 2009
Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: hart, liefde, wysheid | 1 Kommentaar »
beskryf
Bygedra deur moukissie op Junie 24, 2009
Soms wens ek woorde kan die gevoelens in my verlos. Uit kots in letters tot die laaste gal homself bitter maar raak beskryf. Dan sal ek sekerlik bevry wees van die onbekende, maar ook die uitdrukking. Want wat bly dan oor om te beskryf as alles klaar reg gesê is.
Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: bevry, gevoelens, kots, woorde | Leave a Comment »
29 Mei 2009
Bygedra deur moukissie op Junie 18, 2009
Goeie môre. Blaas jou vars asem in my longe in. Meteens verskil “hier” en “naby” wêrelde van mekaar terwyl jou dun vingers geniepsig speel deur die truitjie wat ek aan het. Vir ʼn oomblik huiwer my asem in ʼn waas voor die lug dit insluk, terug in jou longe in?
Dis winter en ek sit vroegoggend buite om my skoene skoon te maak. Die reuk van politoer herinner aan soveel vorige oggende, soveel vorige kere hier in die koue waar ek myself reggekry het vir skool of wat ook al die dag sou oplewer. Dis nie gewoonlik die tye waar jy diep oor die wêreld en die groter “AL” dink, of selfs bepeins oor die samestelling van die heelal nie.
—
Meteens wonder ek of kulkunstenaars se slagspreuke hulle in die hakskeen byt as dit by verhoudings kom? Ek sal ʼn voorbeeld noem: “Ek kul jou hier ek kul jou daar en siedaar!”
(Wat? Verdwyn ‘sy’ dan? Mmm… –ed)
Wie is ek om te oordeel, dalk werk dit nie eens so nie, dalk is dit juis een van die groot redes dat mens werk en huishouding moet skei. Anders skei jy?
—
Ek sal dalk meer as net die truitjie nodig hê om die koue van my lyf af te hou, soos ʼn verlore liefde wie se vervaldatum diep in die verlede lê is daar geen dromerige gevoel in my vir dié seisoen nie. As ek ooit iets gevoel het is dit met die vorige griep uit my lyf uit gesweet.
My serp is weg.
Een van die geskenke tussen ons en nou is dit weg. Elke oggend voel ek haar asem in my nek af blaas terwyl ek deur die verkeer vleg op my swart perd, vergifnis is my dus onbeskore. Dis dan maar hoe dit tussen ons gaan, helfte van die jaar word ek vasgevang in die verbete stryd om mure om my te kry, met komberse en verwarmers hou sy darem afstand. Die res van die tyd kom ek weg met somersklere en selfs kaalvoet op die teëls.
Maar die nag …
—
Die Beeld blaker vandag iets op die pale van reën in die noorde wat nie so ongewoon is nie, tog grou die dorp swaar onder die wolke. Goedkoop parfuum kleef die nat koue aan my lyf en ek sidder want die einde is nog lank nie in sig nie.
Tog beskaam die hoop nie, weet ek die warm seisoen is op pad en sal daar selfs nog iewers uit die koue dae se kille stryd nog warmte verskyn uit die liefde uit.
Posted in Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: liefde, winter | Leave a Comment »
2009-05-18 ‘n Gedagte_Rook dit
Bygedra deur moukissie op Junie 17, 2009
Marcel was nie sommer die “standaard” tipe ryloper nie, wel nie op die maniere wat jy dink nie. Ek het Marcel nie langs die pad opgetel en ʼn geleentheid gegee omdat daar niemand anders naby was nie. Dit het so bietjie toevallig gebeur, tog met genoeg ryloper elemente om vreemd te wees. Soos in die “standaard” gevalle het ek Marcel nie van ʼn kant af geken nie, die uwe het trompop die volgende oomblik voor my gestaan en vir ʼn saamrygeleentheid gevra.
Hoekom nie?
Noudat ek daaraan dink, ek het vir Johan iewers in die Karoo opgetel, naby een van daardie plekkies waar jy nie lekker weet waar dit is nie, tog is jy nou daar. Eintlik was dit nie ʼn plekkie nie. Daar was niks. Al wat ek kan onthou was die man langs die pad met sy slierte, sak en tas. Dit was ʼn voorreg om dié navorser ʼn geleentheid te kon gee. “Eintlik lyk ek nie altyd so nie, dit kom maar so saam met die lang paaie.” Ek knik. Die sak het ons sommer agter in die bakkie gegooi maar die tas het hy nie onder uit sy oë laat uitgaan nie.
Ek raak soms aan die slaap en het die geselskap meer waardeer as wat dit oor enige samaritaanse gebruike gegaan het. “Eintlik skryf ek ʼn boek,” loer-sê hy versigtig oor na my kant toe. “Jy sien, Reynold, my familie se storie is ʼn interessante een. Dit is hoekom ek al dié dokumente het. Dis navorsing wat ek nou al van regoor die land bymekaar gemaak het.” Hy het nog redes gehad. Kan hulle net nie onthou nie.
Marcel was anders, merkbaar gespanne.
“Jong Reynold, dis nou ʼn ding dié hoor, my tand is seer. Magtig, ek weet nie meer wat om te doen nie. Eergisteraand vra ek twee kleurlinge of hulle dalk plan het vir my. Man, dit was nie ʼn goeie idee nie, hulle begin toe hier in my mond grawe met ʼn skroewedraaier, maar dié ding was heeltemal te stomp en te dik. Wat kan jy nou maak, hulle is twee en die politiek het mos verander. Ek het maar net vasgebyt en dankie gesê.”
“Eintlik wil ek vra of jy dalk ʼn kleiner skroewedraaiertjie het en my met die tand kan uithelp?”
Dis gevaarlik om rylopers op te tel, jy weet nooit waarin jy jou begewe nie. Ek is nie tandarts nie, ek was wel in ʼn tegniese skool maar of my gevaarlike kennis van houtwerk hier van hulp gaan wees, weet ek nie regtig nie.
Amper angstig vra Marcel of ek verantwoordelik is, “wil net seker maak of ons veilig gaan ry”. Die bakkie skommel en stamp bietjie omdat ek nie veel ag gee aan klein duikies in die pad nie, hy het nie die sagte rit van ʼn duur luukse Duitse motor nie. Dit word van links beantwoord met “oe! Sjoe … Daar’s-hy, ons is nog veilig, moet nie worry nie, ons gaan veilig ry …”
Huh? Ja, en dit was net die begin.
“Ry jy vinnig?” Adrenalien puls deur my are … Is dit ‘n vraag, voorstel of ‘n begeerte!? “Ons KAN as jy wil.” Die glimlag op my gesig verwar Marcel wat lyk of die eindtye aangebreek het.
Ek ry 100km/h.
Dis toe wat ek dit voel. Heel onverwags terwyl ons om die een draai kruie en ek met albei my hande op die stuur en met al my oë op die pad gefokus is. ʼn Ferm greep aan die linker kant van my kop lei die volgende woorde in: “Ek bestraf jou satan, jy en jou demone …”
Soos stadige beeldmateriaal in ʼn aksie film draai die oomblikke in minute om en die held van ons storie beur reikhalsend voort om die chaos te keer, om die wêreld te red en ons spring op in die fliek en skree soos by ʼn sport wedstryd. AAaaaaagghh!
“… Los hom!!! gees van verwerping, LOS HOM!” Dis eintlik ʼn mooi dag, die kosmos langs die pad staan geil en room die begin van die koue seisoen in sagte skakerings van pienk en lig pers.
Teen die tyd is selfs my puisies uitgedryf.
Eindelik kom die slotsin gevolg met die “Amen” punt.
Sieklik skree die rubber oor die teer terwyl die bakkie liggies na links skeef trek oor die pad en in ʼn stofwolk langsaan tot stilstand kom. Die eerste deur om oop te bars is myne gevolg deur ʼn ferm stappie waarna die passasierdeur oop bulder. Ek hoef niks te sê nie, my aksies spel dit onomwonde. Versigtig klim Marcel uit, tassie en al.
Wag ʼn bietjie …
Ja, dit het gebeur, ja daar is baie detail uitgelos – ek wil nie noodwendig alles wat uit my gedryf is sommer vir die wêreld uitblaker nie. Ja, Marcel was DOODernstig. NEE, ek het nie in ʼn groot gejuig gestop en my ryloper net daar langs die pad gelos nie.
Ek was so uit die veld geslaan deur die gebeure dat ek net houtgerus aanhou ry het. Tevrede dat ek van al my sonde vergewe is en van alle demoniese besetting bevry is, sit ʼn minder gespanne Marcel in die linkerkantste truspieëltjie en staar. Ek het intussen vinniger begin ry en pas my beste bestuursvermoë toe dat die spoed nie bespeur word nie. Dit werk! (Ek hoop nie daar is kameras nie…)
Die lighartige luim van dié gedagte moet nie met spot verwar word nie, Marcel is ook nie aan die wêreld onder daardie naam bekend nie, tog is daar ʼn punt aan die storie.
Die fanatiese uitdrukking van dié persoon se geloofsoortuiging het my laat wonder hoe ons soms die wêreld verwar met die dinge wat ons aanvang. Kyk, die hart is opreg, maar die logika ontbreek. Sou jy ooit dié bevlieging ervaar om demone uit die bestuurder van die voertuig waarin jy ook sit, te dryf, maak seker julle staan stil en dat die enjin nie eens luier nie. Nee, skrap daardie idee. Moet nie dit in ʼn voertuig doen nie, want as jy reg bespeur en legio besluit om vir almal in hom ʼn beurt te gee om ʼn bestuursles te kry mag jy dalk net meer avontuur beleef as wat daardie dag kan behartig. Jy mag dalk net ook wil seker maak jou versekering en medies dek sulke tipe aktiwiteite.
Uit geleenthede waar ek al mense onder die invloed van die bose gesien het is dit oor die algemeen goeie praktyk om nie voertuie, plaasimplemente en ander dergelike toerusting in die gebeurtenis in te sleep nie. Ek wil jou nie skrik op die lyf jaag nie, kry maar net eers bietjie ondervinding in die gebied voor jy te veel bewegende dele in die praktyk inbring.
“Are you smoking what you’re selling?” uit ‘Velvet Elvis’ deur Rob Bell
Ongeag die opinie wat jy dalk mag hê van “Marcel” het ek gewonder oor die idees en filosofieë wat mense om my by my “koop”, kan ek met dieselfde ywer my oortuigings in my eie pyp stop en dit rook?
Posted in Gedagtes ... | Tagged: “Are you smoking what you’re selling?”, lift, rook, ryloper | 1 Kommentaar »