die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the ‘Gedagtes ...’ Category

2007-06-25 ‘n Gedagte Matrix (nr drie van drie)

Bygedra deur moukissie op Julie 23, 2009

Dit was nou nogal stil vir ʼn wyle. Twee redes: die een is dat die skaal nog sif, die ander is dat ek in die proses tot ʼn beter insig gekom het oor die opinie van God … of te wel, die gebrek daaraan …

Ek wil net in dié stadium my dank aan Jaco betuig vir die insigte omtrent Opinicus. Dan wil ek ook dankie sê vir al die terugvoer wat ek op my gedagtes kry, ek verwelkom hulle enige tyd.

Ek het in my vorige gedagte die stelling gemaak dat God ʼn opinie het.

Ek dink ek was verkeerd.

Die afgelope tyd het ek ʼn nuwe vlam van belangstelling beleef met die fliek “The Matrix”. Net die eerste een op die oomblik.

As ek die skrywe wil kort hou gaan ek ongelukkig BAIE van die haaslopies omtrent The Matrix moet uitlaat. Maar glo my, enige selfstudie wat jy gaan beywer sal nie ʼn mors van tyd wees nie …

ʼn Laaste woord voor ek begin: Dit is nogal noodsaaklik dat jy ʼn goeie idee het wat in die fliek gebeur het en jy moes die laaste twee Gedagtes (2007-05-05 en veral 2007-05-18) gelees het.

“What is the Matrix? … It is the world that has been pulled over your eyes to blind you from the truth …”
“You are a slave born into bondage … a prison for your mind …”
-Morpheus

Morpheus: The Roman god of sleep and dreams …
Thomas A. Anderson / Neo: The word ‘Neo’ is an anagram of the word ‘One.’ Neo is also Greek for ‘new’, suggesting messianic overtones for his mission in the Matrix. There is also a reference to humanity with “Anderson”.
Trinity: The character’s name is derived from the name given to the triune Godhead in Christianity.
Nebuchadnezzar: The inscription on its core reads “Mark III No. 11 made in the USA year 2069.” Mark 3:11 reads “And whenever those possessed by evil spirits caught sight of him, they would fall down in front of him shrieking: ‘You are the Son of God!’”

ʼn God wat ʼn opinie het, is soos Neo voor sy dood. Sy gawes beïndruk mense en – soos met Jesus – wou hulle sien wat hy nog kan doen. Jesus het ook eers die wêreld verander met Sy dood want toé eers het die Nuwe Testament vir almal in werking getree.

Wat hét die wêreld verander? ʼn Mandaat om die bose te oorwin? Liefde vir die wêreld! Nie ʼn skermutseling tussen God en ʼn gevalle engel nie! Ek dink nie die Here soek troepe om Hom te help veg teen ʼn gevalle engel nie – Hy probeer nie maatjies aan Sy kant kry sodat Hy die boelie na skool in die parkie kan takel nie!

Morpheus: “I’m sorry, usually we don’t free a mind this LATE …”
Die geveg is nie teen die masjiene nie, maar teen die persepsie van realiteit in mense se koppe. Ons het nie Christene wat “verlang” na die “wêreld” nie, ons het mense wat fiksie en realiteit verwar …!

So, hoe kan ek The Matrix vat en waarheid daaruit probeer verduidelik? Suggereer ek dat die twee broers wat die konsep in die lewe geroep het gelowig is? Die naam van die fliek stel dat dié nie ʼn eendimensionele idee is nie maar ʼn matrix is [“A rectangular array of elements (or entries) set out by rows and columns; an enclosure within which something originates or develops (from the Latin for womb)”].

Dit daag jou oorsprong en die setel van wat jy glo en hoekom.

Hoe het twee potensiële heidene so ʼn raak-waarheid verbeeld? Ek dink deur bloot die leemte wat elke mens in hom het effektief te beskryf … ons verdowingsmiddels kan die wêreld stilmaak totdat waarheid deur dit iets in ons laat resoneer. Ons soek liefde wat die waarheid in ons kan red en in oorvloed laat leef buite die leuen waarin ons gebore is.

Anders gestel: As jy onthou het die god van verdowing/slaap die EEN daaruit laat opstaan en vir hom die waarheid gewys. Toe die Smith vir Morpheus ondervra was dit vrugteloos, totdat hy hom met waarheid konfronteer en Morpheus nie sy verdowing kon toepas op dit wat toe in hom resoneer nie …

Neo sterf … Trinity maak hom wakker met liefde … en meteens word een van die eerste stellings reg aan die begin van die fliek waar (natuurlik net binne die konteks van die fliek). Net voor hy die wit hasie op die meisie se skouer sien sê die man vir hom: “You are my own personal Jesus Christ …”
Maar toe was hy nog die ongelowige Thomas … met sy dood en herlewing besef hy, hy is die EEN en sy laaste woorde in die fliek?

“I’m going to show these people what you don’t want them to see, I’m going to show them a world without you, a world without rules and controls, without borders or boundaries … a world where anything is possible …” *

Goed, wat dan van God se opinie wat nie meer bestaan nie? Maklik. Totdat Neo gesterf het was hy ongelowige Thomas en was dit net Morpheus se opinie dat hy die “EEN” is. Dit was net ʼn opinie op die rak van menings. Ons werk ook so, gaan na twee of drie dokters toe vir OPINIES oor wat makeer en dan meteens word die opinie waarheid. Toe TRINITY die opinie met liefde bevestig verander die opinie na waarheid …

Een vraag: wat was die waarheid voor die bevestiging? Was dit nie toe alreeds die waarheid nie? Is God eers GOD as ons in Hom glo?

God is nie ʼn medium wat ek raadpleeg vir ʼn ekstra opinie nie! God WEET! Hy is dan die ONTWERPER. Die AL. Die ewige “IS”. Die ‘van alle tye tot alle tye’. Die Oneindige. Maar ook die EEN sonder ʼn begin! Want sou Hy God wees as daar iewers in die annale die inskrywing kon staan “… en toe was daar god …”

Hoe kan die AL nét ʼn opinie hê??? Hy kan onmoontlik nie gereduseer word tot net nog ʼn opinie in die skare van menings daar buite nie!

Dis vreemd om weer die yskas te hoor. Jy weet mos hoe dit klink?! Dalk is dit net ek. Daar kom soms tye wat jy weet hoe goeters moet wees. Byvoorbeeld weet jy hoe elke kamer in jou huis sy eie klank het. Tog voel dit soms alles nes lêers wat opgeroep word in teenstelling met ware belewenis. So nou stap jy in die kombuis in. Die volgende word opgeroep: ketel klink so, yskas klink so, vloer voel so, blaaie voel so, lig lyk so …

Jy kon net sowel in ʼn fiktiewe kombuis ingeloop het en elektroniese pulse ervaar het wat vir jou die fop-belewenis van die kombuis gee. Ek weet ek het verby myself geleef as ek stil raak en meteens weer die stilte hoor. “Real-time”.

Is dit dalk ook waaroor The Matrix gaan? Dat ons ʼn fop-realiteit leef gebaseer op kunsmatige stimulasie, valse belewenis, maar omdat die masjiene ons die data konsekwent invoer voel ons dat ons lééf …

Is dit eers as ons die plastiek begin proe en daarvan naar word dat ons eers bereid raak om die waarheid in die gesig te staar. Dis die verskil tussen Neo en die Judas figuur in The Matrix. Judas het beide die fiksie en die waarheid beleef, die fiksie het aanlokliker gelyk en geproe … hy kon net nie die waarde van die waarheid sien nie.

Toe, om die fiksie terug te kry, was hy bereid om die waarheid te verloën. Die fiksie het hom eintlik gefop. Plastiek. Hoe kan God dan net ʼn opinie lewer oor die wanrealiteit waarin ons leef? Kan God dus ʼn meningsverskil met Sy eie skepping hê?

Die enigste wese wat dit nog kon regkry om ʼn “meningsverskil” met die God van alle tye te hê, was die duiwel en die oomblik toe dit gebeur het hy soos ʼn bliksem uit die hemel geval.

Opinie vs. WEET … “no contest”

Dis op pad Damaskus toe wat ons besef Hy is God sonder ʼn opinie, maar eerder die enigste EEN wat WEET …

.

-

-

-

Def Opinicus: An imaginary creature resembling a griffin, having a lion’s body and legs, an eagle’s head, and wings and a short tail.

*Mar 10:27 Jesus looked at them and said, “With men it is impossible, but not with God; for all things are possible with God.”

Vir die van julle wat weet van die gesprek tussen God en Abraham in Gen.18:20-33: ek sou dit nie as ’n meningsverskil beskryf nie.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , | Leave a Comment »

2007-05-18 ‘n Gedagte Mené, mené, tekél, perés (nr twee van drie)

Bygedra deur moukissie op Julie 23, 2009

Mené, mené, tekél, perés …?
Daniel 5

Skaal.

Die laaste blare het begin val en soos ʼn ruspe het die koue aan my klere begin knaag en ek voel hoe my lyf van ʼn kant af weerloos raak. Maar dis net die begin.

Die skaal is soos die meeste ystergoeters onpersoonlik-koud tot op die punt waar dit amper brand. Waar dit ʼn week terug nog net ʼn glim op die horison was, is die toets hier. Die warm bed van my verlange krul temerig op as ek haar lakens verlaat en my tot die realiteit wend. Net soos die weduwee se kruik daardie laaste druppel uitbid, hunker ek vir nog net 5 minute maar weet ek dis nou eintlik klaar. Op. Niks meer oor nie …

Het ek maar net nog potte by die bure geleen … was daar dalk nog ʼn bietjie ekstra sand vir hierdie uurglas. Maar helaas is dit nie so nie.

Opstaan.

Ek trek die dag se opinies aan na aanleiding van die weerverslag en soek nog ʼn mus wat darem by die skema pas. Hopelik sal die ruspes nie deur dié een vreet nie …

Jy weet, soms dra die opinie my en soms dra ek die opinie.
Vandag was opsie twee.

Dis snaaks – of eintlik nie snaaks nie – maar dat daar op een dag hierdie puisie van ʼn knoppie groei wat jy van oral af kan voel en wat almal net wil druk. As jy weer sien is jy kinderlik nukkerig of net bloot onbetaamlik suur.

Toets.

Daar was regtig netnou nog vrugte in hierdie mandjie, nou is net die groente oor. Met ʼn terugkyk in volkleur, 20-20, is die oplossings ooglopend, eenvoudig, beskikbaar.

Veilig en filosofies hou ons goeters op ʼn afstand, daar anderkant is hulle, nie hier by my nie. Nee, hier spook die rou verlate vrede van vergetelheid.
Maar ook net vir so lank.

Sien, dis die verskil tussen om die opinie te dra en om deur die opinie gedra te word. Dra jy hom, word hy swaar, ongeag hoe vleiend. Dra hy jou, is dit tien teen een waar. Gewoonlik is mense wat niks weet nie verantwoordelik vir die een.

Dis dan ook die doel van die toets, die weegbrug van die tyd kyk of jy dra of gedra word.

Dis nou onvermydelik. Ek kan nie verder gaan sonder om iets te sê oor die Een wat Alles gemaak het nie. Wie beter as die Een wat my gemaak het om ʼn Opinie te lewer wat my deur die lewe kan dra? Dis hoeka net Sy opinie wat kan dra, Sy mening wat in my raaksien wat net Hy van weet en net ek kan uitleef! Nie iets sommer uit die lug uit met ʼn rakleeftyd nie. Nie iets wat hoop om raak te beskryf nie.

Maar ʼn inspuiting, iets wat kapillêr my wese van alkante af infiltreer om sodoende die integrale samestelling van my te smee om meer soos die weerkaatsing in Sy Woord te lyk. Daardie verandering wat net Hy teweeg kan bring. Flip, hoe kan ek dit anders stel dat dit wat Hy verander deur Sy opinie van my, nie een of ander winkelpop brigade is nie maar die diepste spilpunt van my belewenis omdraai.

Sy opinie is soos Sy wil vir my lewe: naarstigtelik op soek na my. Net om enige onduidelikheid uit die weg te ruim, dis soos om wegkruipertjie te speel maar met een aanpassing aan die reëls: Sodra jy klaar tot 10 getel het, spring almal uit hulle wegkruipplekkies uit en kyk wie jou eerste kan vang.

Wat gaan gebeur as jy dan deur die huis loop en skree “Waar is Jy …”; “Ek soek na Jou …”

Mat 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

“Toets-toets; een-twee; toets … Kan Iemand my hoor?”

.

-

-

-

Dan 5:26-28 Dit is die uitleg van die woord: Mené—God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak; tekél—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2007-05-05 ‘n Gedagte (nr een van drie)

Bygedra deur moukissie op Julie 23, 2009

Dis alwéér winter. Behalwe vir die blare-ding wat verby is en die onwilligheid om op te staan is winter soms vir my ‘n groter aanduiding dat seisoene verander en nog ‘n jaar verby is. In die helderheid van die lente en die somer draai die aarde nie vir my in tyd wat verloop nie. Selfs die herfs is soms net ‘n romantiese gedagte in skakerings van bruin, geel en helder oranje.

Ek dink ek het dié jaar se herfs gemis. Soos iemand wat jy in ‘n oorwink sien verskyn en verdwyn was dié herfs ‘n geliefde met wie ek nog wou praat maar in die losgemaal net ‘n ‘hello’-kyk van kon kry. Die “aand” is verby en al wat oorbly is blare wat soos rommel na ‘n partytjie rondlê. Die wêreld word ‘n leë dansbaan waar die blink konfetti van die vorige seisoen sy glans verloor het en nou vuil op die vloer lê.

Die vorige seisoene se lewe raak skugter en skuil in die herberg van kaal bome en in die beton-oerwoud skarrel elkeen na sy poshokkie toe waar ‘n bietjie warm-en-knus hom kan beskerm van die koue, … en die leed?

Sien, die herfs is amper soos ‘n voorbehoedmiddel wat keer dat die winter ‘n verrassing is – al kom die winter nogsteeds, anders as met voorbehoedmiddels …

Dan is die herfs seker eerder soos ‘n swangerskap. ‘n Tyd waar dinge stadig verander, waar verwagting letterlik daagliks groei en die ongemak wat jy beleef ‘n inleiding raak vir die opoffering wat jy nog gaan maak. Dan baar die nuwe seisoen sy volle implikasie en meteens stort jou vooropgestelde wêreld in duie as realiteit sy pond vleis kom haal.

Nou, voor die slapelose nagte en die donker-wakker-ure ‘n tronk word waar die tyd van jou vergeet en die dag-en-nag-en-vroeë-môre jou laat sidder en beef. Weet dit. Die winter is ook net ‘n seisoen. Die pokkel word ‘n peuter en ‘n kleuter en ‘n kind en die eindelose nagte begin weer die toe-oë van jou siklus vind.

Die winter baar soms kinders wat na jare eers die wêreld in sy volheid wandel. Die ongemak en onrus wat onvermydelik jou kom ‘hael’, is ook net ‘n seisoen. ‘n Seisoen wat noodgedwonge kom, en weer gaan.

Dit is hoekom die herfs vir my belangrik is. In haar romantiek kom fluister sy saggies die waarheid in my oor, maar ook die hoop. Dans sy ‘n laaste skoffel saam met my voor haar lyf my teen die einde van die aand koud laat. Sy word die liefde waarna ek verlang.

Maar die herfs is meer as net die voorloper van ‘n koue leë tyd. Meer as net ‘n verlore liefde en meer as die rooi sinjaal wat verandering aankondig. Herfs is die sterfkreet van verganklikheid, die laaste uitroep van dit wat net ‘n seisoen lank hou. Dít is dan ook die verskil tussen ons en seisoene.

Ons hou langer.

Herfs raak die oproep na die skaal – winter – wat kom weeg of dit wat ons geleef het ook langer as die seisoen gaan hou …

Herfs is ‘n vriendin wat ek altyd wil ken, die vrou met wie ek my lewe wil deel, die aanslag waarmee ek wil leef en die ywer waarin ek die wêreld wil bewandel. Herfs is die waarheid van dit wat oorbly, en die uitdaging vol in my gesig. Herfs is die kind wat ek wil hê maar ook die ouer.

Nader as ‘n soen wil ek haar ken, maar beter as my gisters haar onthou, want herfs is ook net ‘n seisoen wat kom in die rooidag en verdamp saam met die dou.

Voor dié winter my kom weeg en die koue my totaal uitklee, gaan ek eers ‘n bietjie herfs hou. ‘n Oomblik neem om die dou te waardeer voor die ryp kom versteen.

Herfs, soos die nag in die tuin. (Getsémané)

Ontroerd, maar verwagtend.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , | Leave a Comment »

2007-11-12 ‘n Gedagte Pantoffels

Bygedra deur moukissie op Julie 21, 2009

Dis weer troukoors in die kontrei en behalwe vir die gewone gang van seremonies wat ek vir ʼn ekstra inkomste bywoon, begin ek al meer van die knoophakers ken.

Natuurlik kyk ek al lankal self ʼn bietjie rond, maar in my roer kom geen gedaante op nie. Behalwe vir die ritsel in die gras en oomblik op die horison het die jagtog nog geen sukses getoon nie. Persoonlik is ek ook nie ʼn bakkie-jagter nie, nee, van loop en bekruip is ek gemaak, so die gebruik om Vrydagaande met die skietlampe en koelbokse te gaan trofees jag is nie juis deel van my ideale ekspedisie nie. Vir die rekord en uit die ondervinding wat ek het, is troues as sulks glad nie die tipe opskop waar jy met jou roer opdaag nie, dis soos om by ʼn spitbraai op te daag met ʼn tollie aan die leiband …
(verskoon tog die vergelyking –ed)
(ʼn Nota vir die stadsjapies: tollie =s. Jong ossie)

Wat dan gemaak as die ruggie in die nagte koud bly? As daar net een stel slippers langs die bed staan?

Ons het altyd van ‘sweeties’ gepraat en eintlik is dit ‘lekkers’, ek het toe vir amper dieselfde rede gaan kyk of ‘slippers’ net dalk nie ook ʼn Afrikaanse woord is nie, stellig nie, dit heet pantoffels. Gewapen met die regte taal was ek gereed om soos die Mite Polisie uit te vind wat dan nou in dié Pantoffels steek.

Soos meeste goeters uit die volksmond is daar seker ʼn storie agter elke rympie. Ek het al agtergekom dat goeters wat rym mense laat dink dis waar of selfs wet, een ‘sêding’ wat ek aan die kaak wil stel is “sy kan maar haar pantoffels onder my bed kom in skop …” (daar is variasies op die tema).

Daar mag dalk by sekere mense die verkeerde indruk opkom. Dit is byvoorbeeld nie vir my dieselfde as die klassieke fliek-dubbel-betekenis wat die uitnodiging om “gou in te kom om koffie te drink”, het nie. (Dis veral verwarrend as hulle vroeër die aand juis in ʼn koffiewinkel ontmoet het … –ed) Ek het ʼn langer termyn van verbintenis gekoppel aan die hele pantoffel-ding. Tog dink ek dat ek dieselfde uitdaging beleef as sekere kulture toe die Westerse samelewing gekom het met hulle reghoekige beddens, vierkantige kaste en stowe. Hoe gemaak as jy jou bed teen die muur wil vas stoot, as die muur rond is … halfpad deur die nag het die kussing in daardie halfmaangaatjie ingeval, dêmmit.

Wat gemaak as my bed se basiseenheid amper aan die grond raak, dus is daar nie plek onder my bed nie!? Dadelik dink ek aan my ouers se bed en waaragtig staan hy op pote en is daar plek vir pantoffels en ʼn trompet. Ek sal iets moet doen as ek wil plek maak vir daardie pantoffels.

Voor ek verder gaan sal ek net graag ʼn oomblik wil neem om aan te kondig dat die Gedagtes nou al vir ʼn jaar aan die gang is. Vir die wat al vergeet het en die wat nie weet nie: “ ʼn Gedagte” is die venster wat ek oopgemaak het aan die einde van verlede jaar na die letterpret wat ek soms beleef. Dis iets wat teen daardie tyd al vir lank stem gesoek het, tot een aand in die geselskap van vriende met ʼn lekker Jazz orkes in die agtergrond ʼn uitlating gemaak is en iemand gevra het dat ek dit vir hulle aanstuur met ʼn epos.

“Dit is tyd dat ons onmisbare oomblikke, onvermydelik, ráák moet leef …”

Raakgeleef.

In die begin het ek ingeloer by Skype gesprekke en geselsies om tafeltjies Jazz, groot kuiers op soek na die antwoorde van die heelal en selfs net die eenvoud van ʼn glasie tonic (dis nou die “T” sonder die “G” …).

Terug by die pantoffels onthou ek hoe as jong seuntjie ek een vakansie ʼn tand getrek het. ʼn Ander legende van die pantoffels het sy kop hier uitgesteek, dié van die tandemuis. Mens moet dié legendes nie sommer ligtelik benader nie, ek het ook nie, die tandjie is mooi geborsel en in die pantoffel gesit.

Alles was reg en in hul plek toe ek gaan slaap daardie aand, die muisie moet tog net die rotgif op die plafon misloop …

My oë was skaars oop toe ek die munt sien blink in die haak van die pantoffel. “YESss! “

Ek kan seker nie namens my voorgeslagte praat nie maar iewers was daar seker ʼn Jood gewees … minute later is dit ek, my pantoffel, die logika van ʼn laaitie en ʼn 5c muntstuk, paraat.

Muise (Mus musculus) is sekerlik gebiedsgebonde of so iets (ek dink ek het dit op TV gesien of by iemand gehoor wat dit in die Huisgenoot gelees het), so as ek my pantoffel in ʼn ander deel van die huis gaan sit en die 5c sit waar die tand was …

ʼn Verskeidenheid van faktore maak dat ek nie die volle detail kan onthou nie, die punt is dít: dat deur watter meganisme dit ook al gebeur het, het ek daardie dag geld geruik en die arme muis twee of drie keer kon oes voor die fontein in my pantoffel opgedroog het. Ek was ligtelik ingenome met die ‘feit’ dat ek kan GELD MAAK UIT MUISE! (al was dit net dié één dag en met die klein belegging van ʼn uitval tand …) ʼn Meevallertjie nie te min en raakgevat!

Ek soek nie meer geld uit leë pantoffels nie, maar eerder ʼn paar voete.

Ek is gefnuik: daar is nie plek onder my bed nie en die pantoffels staan verlate aan die voet-en-ent. Dalk gaan dit glad nie eens oor die pantoffels nie, dalk het daardie muis my net gespeel vir nog ʼn tand en toe hy aan die einde van sy kanse kom besef my glimlag gaan nêrens heen nie (of iemand in die huis se kleingeld was op?).

As dit dan nie in die pantoffel steek nie?

ʼn Gedagte wat lank gesoek het na sy ink en pen vind meteens ʼn groter waarheid uit. Dit ís nie in die pantoffels nie, nie in die wag en loer nie, nie in die blinde kuiers of skietlamp ekspedisies nie …

“Dit is tyd dat ons onmisbare mense, onvermydelik, raak moet lééf …”

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , , | Leave a Comment »

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Bygedra deur moukissie op Julie 10, 2009

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , , | Leave a Comment »

2009-06-22 ‘n Gedagte_Leef

Bygedra deur moukissie op Julie 7, 2009

‘Terminator’, ‘Matrix’, ‘Equilibrium’, en as jy regtig lus is sal ‘Planet of the Apes’ op sy eie manier ook aan dié kriteria kan pas. Eersgenoemde het ek onlangs gesien en ʼn sinnetjie iewers in die dialoog het my aan die ooreenkomste laat dink.

Menswees.

Ons probeer met ons realiteitsprogramme dit seker ook op ʼn manier raakvat, die logika is net vreemd (tog maak dit sin?). Ons kyk na ander mense … hoe hulle probeer om régtig te wees wie hulle is, of te wel, wat die mense om hulle wil hê hulle moet wees. Dalk laat Jerry Springer ons net beter voel oor ons eie mal lewens wanneer sy gaste hulle afwykings paradeer. Net daar voel ek beter oor my sonde, want iemand anders se lewe is veel erger. Nee kyk, hulle doen dinge wat mens nie eens in slegte geselskap kan herhaal nie. Of so hoor ek. Nee, ék het dit self nog nooit gekyk nie. Jy sien, my suster het ʼn vriend wat iemand in die Kaap ken en hulle bure het dit eenmaal gekyk en ons alles daarvan vertel …

Stories om die kampvuur kom al van die oertye af. Die grot het nou net in ʼn voorkamer, en in sekere huise, ʼn hele aparte TV-kamer verander. Ek onthou nog hoe ons as kinders by die huis sou aankom, die voordeur oop vergeet, en my ma dan sou vra of “…iemand in ʼn grot groot geword het.” (Eintlik het dit niks met die punt van dié gedagte te doen nie …)

Ons probeer definisie kry vir die menswees wat ons beleef of wil beleef. Die illusie wat die media tot nou vir ons voorgehou het, is net nie meer na smaak nie. Nou soek ek realiteit! My oë is moeg vir die goeters wat my hart net nie meer kan glo nie. Nou wil my kop dit hê en my lyf … my lyf soek sy stimulante, kleursels en suiker.

kliek

Een of ander ster se lewe val op die skinder-kanaal uitmekaar en ek voel versadig na dié maal. My realiteit syfer al hoe meer deur die planke, kalklig en simfoniese harmonie as die held op die toneel verskyn. Nee, dis nie waarheid of eg nie. Dan kies ek eerder ʼn ander kanaal waar die tannie haar man slaan, die span vir ses nulle op die eiland uitteer, of waar ek kan sien hoe hulle iemand se gesig smelt en nuut maak.

Dis die moderne wêreld. Jy kan enige iets op daardie kas laat verskyn en heeldag daarna kyk. Want sien is glo.

kliek

Flip, ek haat advertensies. Sal eerder iets op die betaal-kanaal kyk as wat ek so deur die film moet hakkel.

kliek

Terug by my realiteit wat teen dié tyd soos ʼn sproetgesig seuntjie eenkant sit, onvergenoeg in sy eie vel want die kassie het hom vir homself verveel. In ʼn flikkering is wie hy is en dit waaroor hy droom net nie meer goed genoeg nie. Pas hy nie meer in sy eie belewenis van dié lewe nie en word selfs sy aanraking met die wêreld verdruk deur perke wat voorheen nog geensins bestaan het nie. Op die man af los hy sommer sy meisie wat nie naastenby meer opweeg met die silikonpoppies van die kassie nie en sy werk is ook nou sommer sy dienste kwyt.

kliek-kliek-kliek

Die kanale laat my suf.

Spoel bloeddorstig die een slagting na die ander in my sintuie af.

Die beelde sink in ʼn ‘ghonk’ weg tot net die swart skerm oorbly. Is dié dan realiteit? Alleen in ʼn donker kamer met net die videomasjien en DSTV se liggies wat brand. Sooibrand slik die onvergete beelde weer deur my gedagtes en herkou elke flikkering weer voor my geestesoog. Dors soek my oë nou die prentjies elke dag, verdoof sien ek nie meer die lyke langs die pad lê nie, hoor ek nie die sirenes wat om my skril nie en mis ek nie die karakters in my lewe nie. Mense raak vervangbaar, en soos die spelers in die stories sinneloos afgemaai word, val vriende en familie net weg tot ʼn inskrywing in die kredietrol.

Moeg vir die mense om my, maak ek nog ʼn skerm oop. Blink sy lig oor die letters waarmee ek op jou muur kom skryf. Pleister daar foto’s, boodskappe en ander onsinnighede op die kaleidoskoop voor jou en looi ek my hart vir jou uit tot net die droë leer oorbly. Goed vir skoene.

Menswees.

Meteens ʼn geveg waardig.

Bar verwarrings van dié konsep walg die sensoriese en pornografiese mishandeling wat gewone mense elke dag moet deursif. Iets soos kleefplastiek film in ʼn lagie oor die voelers wat andersins ons aan die elemente van realiteit sou blootstel. Nie langer wil ek van die wêreld af wegskram nie, maar wil ek voel en weet waar die reën inpas.

Dit kan nie vir ewig koud bly nie. Jou hande kan my nie vir ewig uitlos nie. Iewers in ʼn stadium gaan daar weer blomme uit die dor verskyn. Regte blomme wat jy kan ruik, lief hê en oor kan treur as dit verlep. Sal die son weer brand en die nag korter as dag wees.

Sal jy haat, liefhê, die foeter in raak… en vergewe. Omdat dit alles saak maak. Sal jy voel wanneer jy brand en sal jy naalde weier wat seer wil blind maak. Sal jou hart weer kan pyn en bons en ophou doof wees vir die pulse wat roer.

Menswees gaan oor meer as dierlike instinkte. Meer as die verdowing wat ons so verslind en die versugting wat ons wil voer. Dit gaan netsoveel oor die pyn as wat dit oor die lag gaan, oor die stukkend en die heel. En as alles wil stil raak voor die geraas van storms dan gaan dit oor die afwagting, die vrees en die sug van verligting! Dit gaan oor God, die duiwel en elke dag se tef-en-teem wanneer ons soos Job, en selfs erger, wil skree, vloek en wens om dood te gaan.

Stig klank in die stilte, skud sodat iets kan beweeg en lui jy die klok na pouse sodat die volgende ronde kan begin. Maar voor die kakofonie jou gemoed oorrompel … leef.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , | Leave a Comment »

2009-05-18 ‘n Gedagte_Rook dit

Bygedra deur moukissie op Junie 17, 2009

Marcel was nie sommer die “standaard” tipe ryloper nie, wel nie op die maniere wat jy dink nie. Ek het Marcel nie langs die pad opgetel en ʼn geleentheid gegee omdat daar niemand anders naby was nie. Dit het so bietjie toevallig gebeur, tog met genoeg ryloper elemente om vreemd te wees. Soos in die “standaard” gevalle het ek Marcel nie van ʼn kant af geken nie, die uwe het trompop die volgende oomblik voor my gestaan en vir ʼn saamrygeleentheid gevra.

Hoekom nie?

Noudat ek daaraan dink, ek het vir Johan iewers in die Karoo opgetel, naby een van daardie plekkies waar jy nie lekker weet waar dit is nie, tog is jy nou daar. Eintlik was dit nie ʼn plekkie nie. Daar was niks. Al wat ek kan onthou was die man langs die pad met sy slierte, sak en tas. Dit was ʼn voorreg om dié navorser ʼn geleentheid te kon gee. “Eintlik lyk ek nie altyd so nie, dit kom maar so saam met die lang paaie.” Ek knik. Die sak het ons sommer agter in die bakkie gegooi maar die tas het hy nie onder uit sy oë laat uitgaan nie.

Ek raak soms aan die slaap en het die geselskap meer waardeer as wat dit oor enige samaritaanse gebruike gegaan het. “Eintlik skryf ek ʼn boek,” loer-sê hy versigtig oor na my kant toe. “Jy sien, Reynold, my familie se storie is ʼn interessante een. Dit is hoekom ek al dié dokumente het. Dis navorsing wat ek nou al van regoor die land bymekaar gemaak het.” Hy het nog redes gehad. Kan hulle net nie onthou nie.

Marcel was anders, merkbaar gespanne.

“Jong Reynold, dis nou ʼn ding dié hoor, my tand is seer. Magtig, ek weet nie meer wat om te doen nie. Eergisteraand vra ek twee kleurlinge of hulle dalk plan het vir my. Man, dit was nie ʼn goeie idee nie, hulle begin toe hier in my mond grawe met ʼn skroewedraaier, maar dié ding was heeltemal te stomp en te dik. Wat kan jy nou maak, hulle is twee en die politiek het mos verander. Ek het maar net vasgebyt en dankie gesê.”

“Eintlik wil ek vra of jy dalk ʼn kleiner skroewedraaiertjie het en my met die tand kan uithelp?”

Dis gevaarlik om rylopers op te tel, jy weet nooit waarin jy jou begewe nie. Ek is nie tandarts nie, ek was wel in ʼn tegniese skool maar of my gevaarlike kennis van houtwerk hier van hulp gaan wees, weet ek nie regtig nie.

Amper angstig vra Marcel of ek verantwoordelik is, “wil net seker maak of ons veilig gaan ry”. Die bakkie skommel en stamp bietjie omdat ek nie veel ag gee aan klein duikies in die pad nie, hy het nie die sagte rit van ʼn duur luukse Duitse motor nie. Dit word van links beantwoord met “oe! Sjoe … Daar’s-hy, ons is nog veilig, moet nie worry nie, ons gaan veilig ry …”

Huh? Ja, en dit was net die begin.

“Ry jy vinnig?” Adrenalien puls deur my are … Is dit ‘n vraag, voorstel of ‘n begeerte!? “Ons KAN as jy wil.” Die glimlag op my gesig verwar Marcel wat lyk of die eindtye aangebreek het.

Ek ry 100km/h.

Dis toe wat ek dit voel. Heel onverwags terwyl ons om die een draai kruie en ek met albei my hande op die stuur en met al my oë op die pad gefokus is. ʼn Ferm greep aan die linker kant van my kop lei die volgende woorde in: “Ek bestraf jou satan, jy en jou demone …”

Soos stadige beeldmateriaal in ʼn aksie film draai die oomblikke in minute om en die held van ons storie beur reikhalsend voort om die chaos te keer, om die wêreld te red en ons spring op in die fliek en skree soos by ʼn sport wedstryd. AAaaaaagghh!

“… Los hom!!! gees van verwerping, LOS HOM!” Dis eintlik ʼn mooi dag, die kosmos langs die pad staan geil en room die begin van die koue seisoen in sagte skakerings van pienk en lig pers.

Teen die tyd is selfs my puisies uitgedryf.

Eindelik kom die slotsin gevolg met die “Amen” punt.

Sieklik skree die rubber oor die teer terwyl die bakkie liggies na links skeef trek oor die pad en in ʼn stofwolk langsaan tot stilstand kom. Die eerste deur om oop te bars is myne gevolg deur ʼn ferm stappie waarna die passasierdeur oop bulder. Ek hoef niks te sê nie, my aksies spel dit onomwonde. Versigtig klim Marcel uit, tassie en al.

Wag ʼn bietjie …

Ja, dit het gebeur, ja daar is baie detail uitgelos – ek wil nie noodwendig alles wat uit my gedryf is sommer vir die wêreld uitblaker nie. Ja, Marcel was DOODernstig. NEE, ek het nie in ʼn groot gejuig gestop en my ryloper net daar langs die pad gelos nie.

Ek was so uit die veld geslaan deur die gebeure dat ek net houtgerus aanhou ry het. Tevrede dat ek van al my sonde vergewe is en van alle demoniese besetting bevry is, sit ʼn minder gespanne Marcel in die linkerkantste truspieëltjie en staar. Ek het intussen vinniger begin ry en pas my beste bestuursvermoë toe dat die spoed nie bespeur word nie. Dit werk! (Ek hoop nie daar is kameras nie…)

Die lighartige luim van dié gedagte moet nie met spot verwar word nie, Marcel is ook nie aan die wêreld onder daardie naam bekend nie, tog is daar ʼn punt aan die storie.

Die fanatiese uitdrukking van dié persoon se geloofsoortuiging het my laat wonder hoe ons soms die wêreld verwar met die dinge wat ons aanvang. Kyk, die hart is opreg, maar die logika ontbreek. Sou jy ooit dié bevlieging ervaar om demone uit die bestuurder van die voertuig waarin jy ook sit, te dryf, maak seker julle staan stil en dat die enjin nie eens luier nie. Nee, skrap daardie idee. Moet nie dit in ʼn voertuig doen nie, want as jy reg bespeur en legio besluit om vir almal in hom ʼn beurt te gee om ʼn bestuursles te kry mag jy dalk net meer avontuur beleef as wat daardie dag kan behartig. Jy mag dalk net ook wil seker maak jou versekering en medies dek sulke tipe aktiwiteite.

Uit geleenthede waar ek al mense onder die invloed van die bose gesien het is dit oor die algemeen goeie praktyk om nie voertuie, plaasimplemente en ander dergelike toerusting in die gebeurtenis in te sleep nie. Ek wil jou nie skrik op die lyf jaag nie, kry maar net eers bietjie ondervinding in die gebied voor jy te veel bewegende dele in die praktyk inbring.

“Are you smoking what you’re selling?” uit ‘Velvet Elvis’ deur Rob Bell

Ongeag die opinie wat jy dalk mag hê van “Marcel” het ek gewonder oor die idees en filosofieë wat mense om my by my “koop”, kan ek met dieselfde ywer my oortuigings in my eie pyp stop en dit rook?

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , | 1 Kommentaar »

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

Bygedra deur moukissie op December 6, 2008

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

“Strokie asseblief” sê ek amper outomaties terwyl ek my kaart vir die dame gee. Ons is hoflik met mekaar. Sy vra toe “So, hoe celebrate jy dié Heritage Day?”. Ek dog dis Braaidag …

“Ek gaan dit vanaand verseker op ’n spesiale manier doen …” mompel ek deur die valhelm.

Net soos die tolhek in my spieëltjies spoedig verdwyn en ek my oorgee aan die rustige verlaat van die stil snelweg waai die herdenking ook uit my gedagtes.

Maar ’n paar dae later het dit weer begin knaag, soos ’n slegte hoesie wat net nie wil paai nie. “Goed” gee ek oor aan die eerste wonder: “Wát is my erfenis?”. Dadelik dink ek aan kulture wat ek as ryk aan erfenis ag en besef dat 350 jaar skaars ’n tiener is in hulle geselskap. Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dis dalk seker hoekom dit so stil is.

Nukkerig neul ek toe dat al wat ons as Afrikaners op Erfenisdag saambind ’n kosmaak ritueel is wat terugdateer na die oermens toe.

Ek luister Tori Amos, dis ná twaalf, slaap is seker ‘n goeie idee, ek tap skottelgoedwater in en al waaraan ek kan dink is my eerste vakansie in Jeffreysbaai Desember 1996. Daar was ’n oom in die woonwapark wat my en ’n vriend in sy motor gelaai het. Ons het baie draaie in die dorp gery tot ons in ‘n woongebied voor ’n vervalle huis tot stilstand gekom het. Hy het heel opgewonde uit die motor geklim en ons R50 of so iets belowe as ons sy gras (wat halflyf hoog was) sal sny en die erf bietjie opruim.

Ons was nie daarvoor te vinde nie.

Ek besef nou meteens ek kan bly wees hy was nie ‘n pedofiel nie. Goddank!

Nou dat ek daaraan dink, het ek daardie vakansie iets van my erfenis begin beleef! Afrikaans.

Dis die vakansie waar ek in Afrikaans begin skryf het. Daar bestaan wel ’n volle 11 bladsye van skryfwerk voor daardie vakansie – als in Engels. Die pad af see toe en die tydjie daar het letterlik vuur gemaak onder die lettertjies in my wese en hulle het uitgesmet* tussen daardie eerste blou lyntjies van ’n klein notaboekie.

Iewers in die jare voor dit het ’n liefde vir letters en hulle rangskikkings in my grein kom ínvlek dat, selfs nou, ek hulle in arms vol wil laat bos-staan in die vase van hierdie aardse kruik.

Oulaas

Hopies verdriet lê alleen,

met net ’n naam

’n datum,

wat as merker dien.

Gestasioneer

weg van liefde,

tussen kroesies halfwoestyn klipkoppies.


’n Blom het verskyn,

tussen klip en harde grond,

soutwater-liefde

het hom gestreel,

en in die Sondagoggenddou

wat soos ’n diamante lê en glimlag

het dominee, “Amen” gesê.


Swart geklee,

het ons in die somerson

weggestap

van dié rusplek

in stilswye

vir die laaste keer …

Mens moet seker ook eers iets hê, voor iemand anders dit kan erf?

Lina is seker een van die meer vreemder dames wat al by ons gewerk het. Soms as ek wakker word en nie ten volle besef dis al weer Maandag nie bevestig haar giggel so vroeg in die oggend dit vir my.

(Wat dínk jý?)

Ja, die ou siel het die gewoonte om sommer vroeg in die oggend by ons huis op te daag en met die intrap gou ’n geselsie aan te knoop. Dis nie dat sy een of ander verbale diarree of iets het nie, sy wil net sê hoe dit gaan en ook graag weet hoe dit met ons gaan.

“… hie-hie … kyk hoe maak hulle. Hulle bel in, tsjik en antwoord die vraag daar by die radio en wen dan sommer ’n duisend rand. Hie-hie … hoor daar!” Verduidelik-vertaal sy vanmiddag terwyl haar stasie oor die draadloos blêr. Ek sit en eet terwyl sy langsamig aan ’n beker tee sit en drink. Ons het vir ’n tyd – toe sy alleen in die dag by die huis gewerk het – gedink sy luister skelm Radio Pretoria, net om later te besef sy skakel na die naaste Afrikaanse stasie toe net voor sy in die middae loop.

Dis dalk deel van die erfenis wat ons generasie moet probeer nalaat, ’n verlore vyandskap verdoesel deur jare se wedersydse aanvaarding en begrip …

Wedersyds.

Mag ons eendag om dieselfde vuur sit, verskillende stasies luister, maar dieselfde vleis braai.

Ek luister na Eva Cassidy wat haar weergawe van John Lennon se “Imagine” voordra. Dis eintlik hartseer? Eintlik wou ek dié gedagte op die vorige bladsy sy punt laat bereik het waar mens goed voel oor jou liberale opinies en jou aandeel in die goedheid van die wêreld. Waar ek voel my kinders gaan in ’n ander Suid-Afrika woon waar ons mekaar nie haat nie.

Toe nou nie. Ek het van Erfenisdag af net te veel oor die hele ding gedink om dit soo maklik te laat verby gaan. Waaragtig spoor ek toe iewers deur een nag in die Beeld ’n beriggie raak oor die stoere Afrikaner wat 16 Desember 2008 ’n 170 jaar se bestaan wil vier.

Ek wonder of hulle weet COPE wil dit hulle ‘stigtingsdatum’ roep. Ja, waaragtig!

Of almal dit wel stigtelik gaan vind, weet ek nie.

So “ons” foeter weer met een of ander ossewa-replika deur na die regse dorpies om 170 jaar te vier. Soos ou Steve en meeste van die res van die Afrikaanse “ek en my kitaar het ’n CD”-troepe, kom dié stukkie ‘erfenis’ nie noodwendig in my boksie trousseau wat ek nalaat vir my ongebore kroos nie. Ja, ek weet die boere het die Here belowe. Ja! Ek weet hulle het die geveg gewen. MAAR wat ek wil weet is wat presies jy dink hulle belowe het en hoe die wen daarin pas.

Terwyl ons klippe in die bosse gooi: nee dié is nie ’n Belhar belydenis nie. As ek alles in die Voortrekkermonument opvreet beteken dit dat ek die vrymesselaars ook in my erfenis absorbeer? Nie ’n manier nie. (Oeps! Het ek dit hardop geskryf? Toemaar, almal in ons verlede was sulke sout van die aarde dat hulle NOOIT met sulke goeters betrokke sou raak nie … belowe.)

Sover ek die geskiedenis reg verstaan (en ek weet dis subjektief tot die regerende party …) wou die boere die ‘donker kontinent’ betree met die ‘lig’ van hulle boodskap. Was daar ’n bloedige geveg om juis dáárdie boodskap die duisternis in te dra … het hulle in die mis gebid vir oorwinning in die stryd tussen lig en donker.

Vandag glo ek nog stééds dat daar duisternis in dié kontinent is en wil ek deel wees van die span wat die Lig inbring. Dat ons in die proses met Taal en kwas die akoestiek van elke dag omlyn en ons belewenis uitsprei oor doek en esel is ’n voorreg wat ek waardeer.

Dít is my erfenis.

*’uitgesmet’: ʼn Konsep tussen uitgesmyt en besmet. Ek dink dat iets jou aansteek om te begin skryf en dat daar soms oortollige woorde ook in die proses uitkom. Van daar af begin die woorde konsepte oopkloof in mense se gedagtes om vir hulle óf ook die oortuiging te gee óf dit te laat verwerp óf selfs net te daag om daaroor te dink. Nie alle konnotasies van siekte is dus regtig relevant met die beskrywing nie tog vind ek soms dat die enigste effektiewe kroniese behandeling vir my siekte is om te skryf.

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , | Leave a Comment »

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Bygedra deur moukissie op Augustus 27, 2008

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Op die bus, op pad terug.

Die Melktert Kommissie draal die stilte doof terwyl los gesprekke tussen stoele die tyd uitkoop. Ek asem my laaste teue van Mosambiek in terwyl haar vingers deur die ruite met my hare speel.

Ek wou dit onthou, dus is die getorring met letters niks minder as die kommentaar op die storie wat reeds in ons foto’s en flikkerbeelde afspeel nie. ʼn Storie waarin jy ook ʼn karakter is.

Meteens gluur die lyne my aan, wil weet watter letters ek aan hulle gaan hang en, soos die markte waar lappe en klere aan toue in die wind wil dans, soek ek ook die bont-baljaar wat jou ʼn stukkie Mosambiek laat beleef.

Ek sien hoe jy terug is in die dorp, jou gordyne in die nag oopmaak, opkyk na bo en wonder wat van die sterre geword het …

ß)

28 Junie

Dis net ʼn draad
Uitgetorringde erts staal gespan tussen ons …
Jou spore trap soos myne …
ʼn Herinnering in stippels gesoom.

Eintlik is dit net denkbeeldig
Tog kan ek my nie ‘oor’ dink nie,
Net ʼn stempel verder
Asem ek dieselfde lug …
Jy ook.

Is ons grens net soos die skemer
Die gordyn tussen dag en nag?

29 Junie

Ken jy stilte?
daardie plek waar selfs die niks

ophou raas

My kinders kyk vanaand vir die sterre
en saggies kan ek hoor hoe hulle ogies
in blinkers wonder …
maar diep in My sakke gons
legioene meer …
fyn sand vir die heelal se vensters bestem
elkeen met sy eie vonkel.

Nie net ʼn Poskaart nie.
Nee, hier groei regte gras uit die murasies
– selfs op die dakke –
en dís wat my van Afrika bekoor,
waar selfs dié halms deur ons
imperialisme se geboue boer.

Saggies sluip sy ook so jou hart binne
haarwortels tuur in die takke van my bestaan
en ritmes in my los woed
soos ons tussen die gehuggies vaar.

My wit vel skif minder
In die nasie se gedagtes,
Asof mens dit kan voel?

30 Junie

Ons is in Mosambiek
Tofo om presies te wees.

Dis bewolk, tog jolig in die bus,
Dis ook toe dat “Ek herhaal Jou”
Oor die luidsprekers speel.

Ek hou van Afrika

Soms voel ek so geïnspireerd
Dat ek niks het om te skryf nie …

Die skanse van ons skadu’s
omlyn skaars die groter gestalte
soek rus in sy obskuriteit
maar vlek sonder om ooit merk te los …

Instinktief hunker ʼn kind na sy
Moeder se bors.
Iets van daardie begeerte
bly soek.

ʼn Fetale vreugde vir ʼn moeder
se bors roer in my wese.
Kan ʼn man in eenvoudigheid
soveel plesier vind?

Sou selfs die begeerte
vir ʼn vrou kan skif
in vergelyking met Jou,
Jou kinders,
hierdie Land.

1 Julie

Jy het aan my bors gevoed.
Ek het jou in my arms gedra.
Die rus vir jou het vroeër gekom.
Toe jy die gevolge van my skande dra …

My kinders huil in Afrika
die sorge van ʼn oorlog blind
met my hande leeg wil ek jou vra
wie gaan hulle harte verbind …

2 Julie

Baringsnood.

Daar is ʼn lus wat ek uit die ou dae ken,
ʼn kompulsiewe drang wat wil hê,
sy volle oorgawe wil stuur in net een rigting.

Word ek hier in die vreemde versoek?
Het my wag my in die steek gelaat,
en so oorgelewer aan die bose?

Al was dit net vir ʼn oomblik,
Was dit genoeg om te besef:
Ek moet en Wil nog in die hande kry …

Want net stukkies van dié God is te min vir my.

“Bon dea, Senôr.”
“Porvavor.”
“Muento beng Obrigado …”

In ʼn vreemde ongeloof straal sy gesiggie,
Lettertjies verstrengel uit sy mondjie
Terwyl hy vir my die speletjie verduidelik …

“Si, Senôr?”

Hy kom agter die wit man verstaan glad nie
Tog gee dit nie om nie.

Iewers het hy en sy twee maatjies
van daardie leë 25l kanne in die hande gekry,
ʼn harde grondwal gevind,
ʼn opregte Mosambiekse glyplank gebou.
Sommer daar langs die nasionale pad.

Oral langs die pad het hulle van ver af al gewaai. Dis seker nie elke dag dat ʼn witman met ʼn driepoot en videokamera verbygestap kom nie.
Opmerklik het sy nie eens opgekyk nie …
“Bon dea?”
Sy sê niks.

Langs haar kom ek eers agter dat sy skaars kan sien.

Hier is dit nou, die doolhof van my verwagting
Blyk die stilte te vervreem
En jy dra nog die Skugter Droom.
Was daar ʼn seisoen, mag dit lente wees
Want net bloeisels kan in kranse vir jou staan.

Wat doen ons hier?
Kyk my Britse Jesus
Jou verward aan?

Elke volk, Elke stam … in sy eie taal.

Hoe tel ek die splinters op?
Waarheen dra ek die skerwe van my bestaan?
My hande is flenters
My knieë dra die letsels van jare se glas
Tog prewel ek steeds
“God wees my tog net genadig”
“o-Jirre!”

Soms is ek voor my vyande
Om die stok te slaan,
Skel en laster ek aan die kruis langsaan …
“o-Jirre”

3 Julie

Weer is my pen leeg
uitgeteer oor bladsye suf en sier.
weer is my woorde hol
dors gedagtes op soek na betekenis.

Kon ek ooit ʼn duideliker wete gehad het?
Kon Jy enigsins Meer vir my bestaan?
stilweg hunker ek steeds
dors my wese na ʼn groter belewenis …

Jou vorm bly my ontwyk
tog met elke spieëling
sien ek Jou skadu om die hoek verdwyn
ruik ek Jou in die wind
en weet Jy is daar!

Kan ek enigsins beteuel?
Is daar rede om te rem?
Waarom sou ek terughou?
Waarom sou ek skugter?
As alles in my slotsommend weet:
Dis net JY
“Net JY”
Eggo dit in die duisternis

4 Julie

ʼn Mens het sterre gekyk
Wanneer jy die aarde se beweging in hulle kon sien.

Die oggend dra hom saam met die eerste brode uit,
Terwyl die oond nog warm word,
Met ʼn rooi gloed luier die strale vir eers.
Later sal hy nog wit brand

Ek hoor jou hart teen myne
en die bos transponeer jou vreugde tot ʼn kwetter skal.

Salig dryf hy na die ander kant
terwyl ons in die sweet van ons aangesig
die tyd verbou.

Dan kom dit weer
aan die oorkantste oewer
met die dag ryp en vol gebeure
hang die stof swaar in die laaste knal.

ʼn Afwagting rol tapyt
oor die venster van die heelal

6 Julie

en hier sit ons onder die sterre
terwyl ʼn beeldbeuel gedaantes
teen ʼn lap laat dans

die kinders van Afrika se gesiggies
gloei in die golwe lig
wat oor
hulle spoel

Betowerd staar hulle na die
gedoente wat die
vreemde mense hier kom opslaan het

die kragopwekker knetter eenkant
teen ʼn rustige pas
en die film kom tot sy einde
tog is dit net die begin

want die Man in die storie lééf

Dis eintlik vroegaand toe ons
die eskomdonkie agter op ʼn fiets wou laai
nie dat die fiets vanaand nog gaan kan ry nie
want die saal moes waai om plek te maak.

Daar stap ons soos die Israeliete
net sonder die vuurkolom … ?

Die fiets

Ons ontwaak met die luier van die bus wat die stilte verskeur,
een vir een soos meerkatte uit ʼn gat peul die span en sy geselskap
selfs van onder uit die bus.

Dit was ʼn kort nag.

Terwyl ek ʼn draai om die bus loop sien ek ʼn fiets.
Niks vreemd nie.
Dié stapelvervoer sien jy oral in Afrika.

Slaapsakke word opgerol en koplampies krap in sakke rond
– ons moet al op die pad wees voor die son opkom.

Reg om te roer, merk ons dat die fiets nog houtgerus langs die bus lê …
Onraad?
ʼn Portugese brabbel laat ʼn man heel verleë van agter uit die bus verskyn,
skamerig verlaat hy sy bus-ster-hotel,
of verlaat sy hotel hom toe ons in die donker oggend in verdwyn.

Tog nie met leë hande nie?
Nee, niks is weg nie
ek dink net aan die kampvuurstories wat hy nog gaan vertel van sy
nag in die bus.

As ek nog een foto of stukkie beeldmateriaal neem van iemand
wat met ʼn fiets langs die pad ry of selfs net stap
gaan ek sekerlik die mense tuis frustreer
wanneer ons deur die magdom beelde moet spartel.

Tog bly dit betowerend
glo ek eers dat ek in Afrika is
wanneer ek dit oral sien.

My Afrika, waar enige ding met wiele
“4×4” is en ʼn vrag kan dra …

Ek sit in ʼn kerk, een van die groteres wat ek al in Afrika gesien het.
So graag as wat ek Portugees sou wou leer, help die dubbelmedium preek glad nie.
Wat ek wel kan sê is dat die Engelse weergawe darem goed was.

Wat nie uit die stukkie hierbo so duidelik besef word nie, is dat ek in my persoonlike hoedanigheid goed geskool is om in amper enige posisie te kan slaap en dat ek so deur die foto’s neem en beeldmateriaal invorder, dié paar lyne kon skryf … ên slaap. Jip, ek het meeste van die diens gemis en later moes hoor dat die maat wat gepreek het nie noodwendig 1000de kassette sou verkoop nie.

Die afgelope week spieël
deur die gange van my gedagtes

Sou die stilte hom verwaan?
Sou die tyd homself verspeel?
Sou jy die muur afbreek
wat nog net aan jou kant bestaan …

It’s funny how we despise death,
Funny how we shy from something
Completely out of our Control.

It’s all Good, Take me

Ek het iets dié nag bespeur in die bus toe ons deur die slaggate ploeg, net om later te hoor daar was nogal ʼn klomp mense wat gebid het dat ons tog net veilig by die huis sou kom … hie-hie

Hierin word die teendeel bewys
Wanneer jy vind voor jy soek.

7 Julie

Ek dink aan die algemene handelaar
met haar tafeltjie langs die strand
in Vulankulos

vir ʼn paar “meitjies” het sy
haar hele besigheid laat skuif
sodat ons bus kon verby kronkel
op pad na ʼn geteerde weg.

EN1 – Hoofweg

Ek sal maklik ons drade
ruil vir die seltorings hier.

Al ontsnap stukke teer hier en daar
bly dit steeds mooi,
Dalk moet hulle maar gras plant?

8 Julie

Gisteraand het die span ʼn hele pub
oorgeneem en gedans soos Afrikaners.

Vanoggend het ons dolfyne en walvisse
gesien toe die son oor die see opkom.

Ek vind in jou die maat en metrum
van ʼn diepe siele rus
gekunsteld tot die ritme
van ʼn oeroue puls . . .
beur die stilte deur

Dis waar die nag begin
ʼn noue aanskouing
Nee, ʼn noue ontkoming
met vergetelheid

Jou flikkers dans oor die plafon
skimme van die eeue
kryt uit teen die eindelose nag

9 Julie

die rustigheid klad deur
die kontoere van Jou raak
stadig skulp ek my in Jou vrede in
tot ek weet – nou is dit veilig …

gepantser in Jou vorm
breek die diepste ween los
en die hunker na Jou nabyheid
vind my terug op Jou bors

dit is waar ek sal wees
in die skade van Jou sy
in die letsels op Jou rug
reg by Jou

ek speel met lettertjies
en kyk wat hulle aanvang
soos kinders op die strand
baljaar hulle vorms in die sand

10 Julie

Die landskap treur in die maanlig
terwyl Mosambiek stadig uit die bus se vensters spoel.

Ek dink ʼn stukkie van my hart
kruip hier iewers weg …

Ek sal moet terugkom
om hom te kom soek,
weer en weer

… maar nie té hard nie …

Weer soek ek woorde om Jou
om te soom.
die gedagte van Jou teenwoordigheid
blyk nie te vinde te wees in letters nie

Jy bly onseglik
en hoogs onmisbaar

28 Junie – 10 Julie 2008

Soos dit met sommige stukke skryfwerk is, gaan dit wat ek bedoel het, dit wat daar staan en dit wat jy gedink ek daar geskryf het vyf verskillende goeters wees. Ek het partykeer gedink dis ʼn gediggie of woorde vir iemand van die teenoorgestelde geslag, net om later te besef dat Iemand dit eerder vir my geskryf het. Nog iets wat ek nie beplan het nie.

Partykeer kom daar ʼn spieël op en jy dink: “nee, gelukkig is ek beter as dit, wie is die mens in dié prentjie, Here? Moet ek vir hulle bid …?”

Oeps.

Dit het begin met films soos “American history X”. “Tears of the Sun” het my gemoed van voor af geskud, so ook “Hotel Rwanda” en hier ʼn paar jaar later in ʼn kliniek op Maforga bars ʼn Magtige God los deur ʼn siek kind.

Sonder om die films ʼn onreg aan te doen wil ek vir jou iets van die tema vertel. In swart letters. Dis nie mooi films nie. Hulle gaan jou nie soos “August Rush” ʼn warm gevoel gee voor jy met ʼn glimlag gaan slaap nie. ʼn Swart sweer het uit my hart geteer toe ek besef dat mense wat sinneloos doodgaan my nie juis ontstel nie.

22:53 pm

Die Kommissie het intussen ophou speel, iewers in die uiltjie. Die sterretjies pryk ook vermoedelik nog agter die intimiderende wolke, intussen sluip spookbeelde van voorheen glorieryke dorpies by my venster verby. Dat sommige van die span se name my nog ontgaan is nie minder waar as die feit dat julle lewens deur myne gespoel het. En dit in ʼn land waar verspoeling soveel verwoesting bring, kan ek sien hoe juis die teendeel tussen ons gebeur het.

Terug by die films.

My reaksie op die sinnelose geweld het my gekonfronteer toe ek besef dat die Maforga vigskinders dié wêreld verlaat soos hulle hom betree het, as kinders. Die besigheidsman in my het die “col
lateral damage” bepaal en koud bevind – dié kinders dra geen sent tot die wêreld se ekonomie by nie.

Amper dadelik wou ek my van sulke gedagtes vervreem, maar soos die kinders het hulle blymoedig agter my aangehardloop oral waar ek geloop het, want sien: hulle is my wesies, my buite-egtelike skande wat net erkenning wil hê vir hulle bestaan. Kan ek die swart hoekies in my hart eien en voor my Bruidegom erken: “Ja, dis wat daar binne aangaan” en hulle vir die gekruisigde hande gee wat juis daarvoor betaal het.

Eers toe ek die waarheid in my eie hart deur die oë van my Vader sien kon ek die kinders van die land optel en op die heup rond dra. Kon ek die vreugde in hulle oë sien en hulle spore in die sand volg wat vir sommige net ses jaar daar gaan wees voor die wind dit uitvee …

Die punt: Hy het ʼn heelal geskep, alles in perfekte balans geplaas sodat ek dalk 70 jaar op aarde kan beleef en ervaar wat die engele nooit van Hom sal ken nie. Wie is ek om die kinders nie daardie belewenis te gun nie, al is dit ʼn effektiewe druip persentasie in vergelyking met my lewe tot dusver.

Immers het Sy Seun ook vir hulle gesterf. “Moet die kindertjies nie verhinder nie …”

ʼn hart verander

Vir die rekord: Dit was nie op die vrywaringsvorm wat ek geteken het nie, nie eens in kursief of die fyn skrif nie …

Deur my venster het die wolke plek gemaak vir die maan, treurig en mooi. Dis amper twee weke gelede toe ons hierdie pad gery het, helder oordag. Met relatiewe skoon klere, wel ʼn bietjie geskend deur ʼn nag op die bus, maar nietemin skoner. Ons was soos die gestrykte klere ook onaangeraak, anders as nou.

ʼn Gesprek van vroeër vanaand speel terug: “Ek sou nooit in Pretoria ʼn gebraaide hoendersosatie by ʼn straatmark gekoop het en ʼn feesmaal van dit gemaak het nie …” Dan onthou ek soos gister die eerste vleis wat ek by ʼn mark net suid van Angola in Namibië gekoop het, toegedraai in twee dae gelede se koerant. Die ondervinding is nog lank nie vir my ou nuus nie.

Dis nog iets van Afrika wat nie sy bekoring verloor het nie: haar manier om jou vir ʼn dans te vat – of dit nou deur die slaggate van jou eie lewe is of ʼn goeie 80’s sokkie tussen die banke van ʼn bus. Kort voor lank ry jy in ʼn taxi en beleef die wonder van ʼn drywer se geloof(?) in ʼn skedonk se vermoë om jou deur die strate te verplaas. Dieselfde Afrika dra jou op haar hande met ʼn bord pap en ʼn paar bone, vrouens wat sing en klap terwyl die hart in dromme tot diep in die nag puls.

Afrika, waar die liggies van die stat nie die hemel toe skyn nie.

12 Julie 2008

Nie meer die buitelander nie
Nie minder die vreemdeling nie
Al ken die strate my naam
Is dit nie meer ek nie

Ek kyk om my en sien dat dié stad
nie verander het nie
haar wesies dans nog by die ligte
groen, geel en rooi …

Posted in Gedagtes ..., Skribbel wat jy net HIER gaan kry | Tagged: , , , , , , , , , , , , , , , | Leave a Comment »

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

Bygedra deur moukissie op Augustus 27, 2008

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

Op die rusbank. ʼn Onderhoud. Ek dink dit gebeur selde dat ons onsself vir ʼn onderhoud aan die kaak stel.

Die voëltjies sing vrolik buite terwyl die oggend breek. Behalwe vir die ketel wat kook is dit stil in die huis, dis half ses. Hy moet netnou lughawe toe en kan darem dié tydjie afstaan vir ʼn onderhoud.

“Ek dink dis meer die idee van ‘Draadloos’ wat my fassineer en hoe ons dit eintlik in ʼn klomp areas van ons lewe het.” Een suiker, sonder melk, eintlik verkies hy heuning. Die lepeltjie roer so asof hy die dag aandraai al is dit net rooibostee. Hy gaan aan: “Dis ʼn ondervinding-ding, een waar ons iets beleef het en die feit van daardie belewenis kan nie verander word nie. Ek dink aan die gesegde ‘Hulle het oor die tou getrap’. Dit het gebeur, niks wat jy daaraan ongedaan kan maak nie.”

Hy leun vorentoe, asof om iets vertroulik te sê: “ … wel, dis wat ek gehóór het, anders sou die titel seker ‘Touloos’ gewees het.”

“Op ʼn ernstiger noot dink ek dat dit eerder oor ʼn bevryding of ontdekking gaan waar jy nie net iets nuuts beleef het nie, maar waar dit die res van jou bestaan beïnvloed omdat jy dit deurgegaan het.” Dit is eintlik nogal rustig dié tyd van die oggend. Hy kyk vir ʼn oomblik nadenkend by die venster uit.

“Dit gaan oor meer as net Mosambiek.”

“Dis asof, wanneer jy deur die grens gaan, daardie ‘draad’ tussen jou en ʼn ander land afbreek. Ek onthou toe ons op ʼn uitreik in die noorde van Namibië was en ons die een dag by Ruacana na die watervalle op die grens met Angola gaan kyk het. Dit was ongelooflik. Om daar te kom moes ons met ons paspoorte uit Namibië gaan, iets soos 500 meter verder in Niemandsland en daar is die valle. Net regs was ʼn vervalle houthuisie – die Angolese grenspos – met twee wagte, ietwat onwillig om ons in te laat vir dié wat net ʼn stempel in die boekie soek.”

“’n Bietjie teleurgesteld het ons teruggedraai en op ʼn rots gaan sit met ʼn panoramiese uitsig oor die rivier waar hy nog in Angola loop voor hy dawerend breek oor die rand en magtig voor ons uitstort om sy pad grenslangs na die see toe te vind. Tog was dit vir party van die spanlede nie genoeg nie, hulle móés net aan die anderkant kom.”

Hy sit die leë koppie in die skinkbord terug en mik kombuis se kant toe, dit lyk of ons maar die res so in die loop deur die huis sal moet gesels. “Iewers het hulle ʼn gat in die draad gevind, deurgeklim en teruggekom. Studente is mos maar ʼn spesie op sy eie …” skerts hy terwyl hy die koppies langs die wasbak neersit.

“… tog verstaan ek nou eers wat hulle gedoen het.”

“Ons praat ook daarvan om die ‘ys te breek’, daardie plek van waar ons ʼn nuwe vrymoedigheid neem, waar ons met gemak in die ander land ingaan en kan sê ‘ek was al hier’, al is dit net om die storie te vertel dat jy eendag deur ʼn gat in die draad moes klim.”

Die motorsleutels klingel om die laaste rondte in te lui. “Jy wou weet waaroor ‘Draadloos’ nou eintlik gaan?”

“Ons is draadloos, vry agente wat nie aan ʼn leiband volg nie, maar vanuit die oortuiging in ons hart leef. Hoe kan ek dit stel? … dis wanneer die skanse tussen ons en die wêreld afbreek en ons waarlik met vrymoedigheid begin leef.”

Ons waai totsiens vir ʼn laaste keer sommer so by die verkeerslig toe hy afdraai snelweg toe en ek reguit stad se kant toe moes gaan. Die koerantverkoper wou nog nuus verkwansel, maar ek het my kans met die geel lig gewaag. “… onthou ons is nie van dié wêreld nie, al ons is nog in hom …”

Posted in Gedagtes ... | Tagged: , , , , , , , , | Leave a Comment »